Ek woon in ’n huis wat nie koopkrag het nie. Dis nogal ’n proses om by die munisipaliteit daarvoor aansoek te doen ook.
Dus moet ons kragmeter maandeliks deur die munisipaliteit gelees word, want die meter sit nie binne ons erf nie, maar in ’n munisipale kragboks op die straat.
En dit is waar ’n baie groot probleem opduik en dit wys dan ook die onbevoegdheid van die munisipaliteit.
Oënskynlik lees hulle net dan en wan die krag en suig eerder meestal maandeliks ’n syfer uit hul duim.
Dan is dit R950 (wat eintlik meer naby aan ons werklike verbruik is), maar dan elke paar maande word ons geslaan met ’n kragrekening van meer as R3 000 – dit omdat die munisipaliteit te slapgat is om een keer per maand die meter te lees.
Die munisipaliteit spog gereeld oor sy goeie finansiële bestuur van die dorpe – dus sou ’n mens dink hulle sal weet dat dit ’n stryd is om maandeliks die boeke te laat klop.
Hoe kan hulle verwag dat ’n mens sommer so hierdie hoë bedrag uit jou sak uithaal, en dan taamlik gereeld ook?
Ons het al gebel en versoek dat ons in kennis gestel word wanneer die meter gelees word, maar in die afgelope twee jaar het dit slegs een keer gebeur.
Ons het toe die meterleser baie mooi gevra om maandeliks vir ons ’n foto van die lesing te neem en aan te stuur – weer eens leë beloftes van JA, maar nog nooit weer van hom gehoor nie.
Drakenstein-munisipaliteit het van die hoogste dienstetariewe in die ganse Wes-Kaap, kyk maar ook net na die maandelikse basiese koste van bv. elektrisiteit.
Dis nog voordat jy een enkele rand betaal vir eintlike kragverbruik.
Sekerlik verdien die belastingbetaler in die gebied wat maandeliks hierdie hemelhoë kostes betaal beter diens?!
M.J.P., PAARL