Daar is geen ware demokrasie sonder ’n skoon regering nie, of dit nou nasionale, provinsiale of plaaslike regering is.

Ons weet nou al baie lank dat wanneer dit op nasionale vlak kom, is daar geen skoon regering in Suid-Afrika nie. Korrupsie en wanadministrasie vier nasionaal hoogty.

Die afgelope jare onder DA-leierskap spog die Wes-Kaap met die skoonste provinsiale regering in die land. Daarvoor is ons baie dankbaar en hoop dat hulle werklik deursigtig op alle vlakke is.

Dit is dan betreurenswaardig dat ’n wolk van agterdogtig nou oor die Drakenstein-vallei lê, met verskeie bewerings teen die senior bestuursvlak van die Drakenstein-munisipaliteit. Daar word glo onderlangs gelde in die sak gesit vir byvoorbeeld tender-gunsies. Daar word ook in die gange van die Gryspaleis gefluister dat die DA se ondersoek reeds voltooi is met ongunstigte bevindinge teenoor diegene.

Amptelik word geen woord hieroor gerep nie. Ons sou graag meer deursigtigheid wou sien. Ons stadsvaders en al die werknemers van die munisipaliteit, provinsiale regering en nog meer, word met belastingbetalersgeld betaal en die belastingbetaler verdien dus om die waarheid gouer as later te hoor.

You need to be Logged In to leave a comment.