Ná meer as ’n dekade in die Wynlande en agt jaar as burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit het raadsheer Gesie van Deventer op 30 Oktober aangekondig sy hang binnekort haar ketting op.
Van Deventer het die afgelope Woensdag (30 Oktober) op ’n emosionele raadsvergadering aangekondig sy sal aan die einde van November uittree.
Sy is in Augustus 2016 as burgemeester van die Eikestad verkies. Voor haar termyn in Stellenbosch was sy aan die stuur van sake by die Drakenstein-munisipaliteit, waar sy vyf jaar gedien het.
Voor dit was Van Deventer, wat ook ’n wynboer in die Agter-Paarl is, sedert 2011 aan die stuur as die burgemeester van Drakenstein.
Tertuis Simmers, leier van die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap, het Van Deventer in ’n verklaring as ’n ware pilaar van die party beskryf. Hy meen haar toewyding en veggees vir dienslewering laat ’n “onuitwisbare stempel op inwoners in Drakenstein en Stellenbosch”.
Stellenbosch se munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, het Woensdag gesê Van Deventer is die langsdienende burgemeester van Stellenbosch in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis. “Onder haar leiding het Stellenbosch en sy omliggende dorpe uitsonderlike groei beleef, met transformerende ontwikkeling, die modernisering van infrastruktuur en ’n sterk fokus op basiese dienste.
“Jaar ná jaar is meer as 80% van die munisipaliteit se immer-groeiende begroting aan dienslewering en infrastruktuurverbeterings gewy, wat haar toewyding weerspieël om inwoners op te hef en ’n volhoubare toekoms te bou,” meen Mettler.
Dr. Leon Schreiber, die minister van binnelandse sake, het Van Deventer in ’n verklaring sy “vriendin, mede-Namakwalander en voorslag-burgemeester van die DA-vlagskip” genoem. Schreiber, ’n DA-LP en voorheen die verkiesingshoof in Stellenbosch, verwys na sy kollega as ’n “bekwame hand” en meen sy verdien haar rus.
“Gesie, dis gepas dat jy die aankondiging gemaak het net ’n dag ná jou jaarlikse blommeparade. Die pragtige blombeddings wat jy met soveel liefde in die middedorp geplant het, som jou nalatenskap in Stellenbosch op – ’n kleurvolle eiland van hoop wat wys dat regerings in hierdie land met die regte leiers kán werk – en kán omgee,” skryf Schreiber op X.
Mettler sê Van Deventer sal deur kollegas en inwoners gemis word.