Die Suid-Afrikaanse film, Griekwastad wat in
Hopefield verfilm is, is sedert verlede week op BoxOffice te sien. 

Griekwastad is op die topverkoperboek en ware
misdaadroman deur Jacques Steenkamp geskoei en vertel die storie van die soeke
na die waarheid oor wat daardie aand werklik in Griekwastad gebeur het. 

Die hoofrol word deur die bekende akteur Arnold Vosloo (Dick
de Waal) vertolk en ook te sien in die fliek is Lida Botha, oudleerder aan Hoër
Meisieskool La Rochelle in die Paarl en Rolanda Marais oudleerder aan Hugenote
Hoërskool in Wellington. Die bekroonde skrywer, ook van die Paarl, Deon Meyer
is een van die vervaardigers van die fliek.  

Op 6 April 2012 is Deon Steenkamp (44), sy vrou Christel
(43) en hulle tienerdogter Marthella (14) in die leefvertrek van hulle
plaashuis op hul plaas Naauwhoek in die Noord-Kaap vermoor. Die 15-jarige Don
Steenkamp het net ná sononder by die Griekwastad-polisiekantoor ingestorm, sy
gesig, hande en hemp vol bloed. Hy het vir die polisie gesê sy gesin was die
slagoffers van ’n plaasmoord en dat hy in die skuur weggekruip het en eers
teruggegaan het na die huis nadat die skietery opgehou het. Sy suster het in sy
arms gesterf. Maar foto’s van die krapmerke aan sy nek en sy bebloede,
geskeurde hemp was ’n bewys van ’n hewige gestoei met sy suster, Marthella.
Dick de Waal, die speurder, moes sy mening dat die jong seun onskuldig is laat
vaar en hom toespits om ’n trippelmanslag op die Steenkamp-plaas op te los.  

“Hierdie fliek is op ’n raaisel gegrond. ’n Speurder moet ’n
misdaad wat gepleeg is ondersoek om agter die kap van die byl te kom. Hoewel
die storie wye nuusdekking geniet het, wil ek graag hê dat die kyker moet voel
asof hy of sy die storie vir die eerste keer hoor; daar moet ’n gevoel van
onmiddellikheid wees, asof die kyker moet help om die raaisel op te los,”
verduidelik die regisseur, Jozua Malherbe.

“Die karakters is almal op werklike mense gegrond en dit was
vir ons belangrik om dit te respekteer – ons wou sensasie vermy en op wat
regtig gebeur het, fokus. Ons het Jacques Steenkamp se boek oor die moorde as
die kern van ons draaiboek en storie gebruik. Ek het ook met baie mense gepraat
wat by die werklike gebeure betrokke was, soos Dick de Waal, die speurder wat
die moord opgelos het en wat ons in die fliek volg.”

 “Griekwastad gaan die gehore verras, veral die manier waarop
storie aangebied word. Dit is nie ’n gruwelprent of ’n sensasionele onthulling
nie, maar eerder ’n bepeinsing oor ’n raaisel en die mense wat daarby betrek en
daardeur geraak is.”

Botha, wat dit rol van ouma Bettie Steenkamp vertol, vertel
dat een van die uitdagings vir haar was dat die fliek gegrond is op ’n ware
gebeurtenis en dit moeiliker is om ’n karakter, wat nog deur baie mense onthou
word, in ‘n fliek weer te gee. “En jy kan jou beswaarlik heeltemaal in die
gevolge van so ’n tragiese en grusame gebeurtenis inleef,” vertel sy.

Marais wat die rol van Henriette de Waal vertolk, vertel dat
haar persoonlikheid baie ver van dié van ’n polisievrou is, maar wat sy wel met
haar karakter in gemeen het, is die feit dat sy ook ’n ma is met ’n gesin en
dat sy haar kan indink dat enige saak waar ’n familie-moord plaas gevind het ’n
mens moet ruk. “Ek het gefokus op haar menslikheid te midde van haar
professionaliteit. En haar liefde en bekommernis vir haar man wat homself een
honderd persent aan sy werk toewy,” vertel Marais.

You need to be Logged In to leave a comment.