Die geboue net buite Wellington bekend as die leerlooiery, waar leerlooiery vir meer as 100 jaar plaasgevind het en wat as een van die wêreld se grootste verwerkers van velle en huide bestempel is, gaan in die komende maande ’n splinternuwe rol in Wellington se sakewêreld speel.
Volgens Bert Bezuidenhoudt en Oscar Saunderson, twee direkteure van die onderneming wat besig is om nuwe lewe in die geboue van die ou leerlooiery te blaas, gaan die leë geboue langs die Hermonpad in die komende maande omskep word in ’n stylvolle inkopiesentrum wat dramaties anders gaan wees as die inkopiesentrums waaraan Suid-Afrikaners oor die afgelope paar jaar gewoond geraak het.
“Ons gaan sorg dat die geboue van die leerlooierye uiterlik hul karakter as fabrieksgeboue uit vergange jare bly behou, maar binne sal die geboue ’n miernes van interessante bedrywighede huisves.”
Reëlings word tans getref om ’n wye verskeidenheid bedrywe in te sluit. Benewens ’n groot restaurant en ’n leerfabriek, is daar reeds ’n onderneming wat ’n verskeidenheid plaasimplemente en trekkers verkoop. Die geboue gaan ook tientalle ander ondernemings huisves. ’n Onderneming wat werksklere vervaardig en verkoop, het reeds sy deure geopen en ook ’n onderneming wat rekenaars en rekenaartoerusting en programme verkoop en wat webwerwe ontwerp.
“Dis maar net die begin,” se Bert Bezuidenhoudt. “Besoekers sal in die nabye toekoms ’n wye verskeidenheid uitsoek- handgemaakte goedere, eetgoed en groente en vrugte kan koop by stalletjies wat in een van die groot oop ruimtes in die leerlooiery gehuisves sal word.”
Die ontwikkeling is daarop gemik om soortgelyk aan die immergewilde Biscuit Mill in Woodstock te wees.
Die eerste geboue by die leerlooiery is reeds in 1871 opgerig en die huidige ontwikkelaars wil sorg dat die unieke karakter van hierdie ou geboue ten volle bewaar bly.
Die mure word sorgvuldig skoongemaak maar word nie geverf nie en waar hulle gedwing word om ’n ekstra deur in van die buitemure in te bou, word die deure spesiaal gemaak om presies by die bestaande deure en vensters in die geboue aan te pas.
Volgens Bezuidenhoudt is die grond wat die geboue van die ou leerlooiery huisves, slegs ’n klein gedeelte van die eiendom wat aan die oorspronklike maatskappy behoort het en wat ook in die nabye toekoms ontwikkel gaan word.
Op die meer as 50 ha grond oorkant die pad voor die bestaande geboue, word ’n aftreeoord, ’n privaathospitaal, ’n sekuriteitsdorp en ook ’n privaatskool oorweeg.
Die destydse leerlooiery is in 1871 op Wellington gestig. In 1901 het die onderneming dramaties gegroei tot ’n maatskappy met 160 werkers in diens wat jaarliks tienduisende huide en velle gelooi het – genoeg vir die maak van 100 000 pare skoene.
In die daaropvolgende jare het die onderneming sterk bly groei tot dit teen die einde van die 21ste eeu daagliks 2 000 beesvelle verwerk het waarmee elke maand minstens 750 000 pare skoene vervaardig kon word.
Die onderneming het aan die begin van die jare 2000 verskuif en die geboue het in onbruik verval en erg verwaarloos geraak. Die nuwe ontwikkeling wat pas op die terrein begin is, sal waarskynlik baie van daardie gloriedae weer na Wellington terugbring – sonder die onaangename reuk van velle wat vir verwerking gereed gemaak word!
Meer besonderhede oor hierdie nuwe ontwikkeling by Wellington kan verkry word by Bert Bezuidenhoudt by 083 308 6603.
* A new lease of life is being blown into the old tannery in Wellington with a stylish but “different” shopping centre being established there.