Die gewilde akteur Chris van Niekerk woon nou in Wellington waar hy die bestuur van Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach-sentrum gaan oorneem.
Van Niekerk, wat onder meer in die TV-sepie 7de Laan te sien was, het ná 22 jaar se pendel tussen sy huis in Rosendal in die Oos-Vrystaat en waar sy werk in die teater, op TV of op radio hom ook al geneem het, besluit om Wellington toe te trek en by Die Bôrdienghuis betrokke te raak.
“My fokus sal wees om die teater ’n plek van ontspanning, vermaak en vreugde te maak, sonder om te vergeet waar ons bly, wie se lag en wie se trane hier weerklink en vloei, wie liefgehad het en wie getreur het.”
Die plan is om met ’n wye verskeidenheid produksies en optredes, voorlesings en gesprekke, filmaande, Gin&Jazz-makieties en digkuns die teatersentrum ’n gewilde bymekaarkomplek te maak.
Chris se eerste optrede in Die Bôrdienghuis is reeds Saterdag 16 November met die eerste van sy Gedig-en-Woord-optredes. Hierdie viering van die woord in Afrikaans en Engels is al jare ’n passie en as akteur en woordkunstenaar lê die digkuns en die geskrewe woord hom baie na aan die hart.
Chris se Woord-Planeet is ’n persoonlike keuse uit die werk van skrywers en digters soos NP van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström en Elisabeth Eybers, Shakespeare, Nina Cassian, Boerneef, Henk Rall en verskeie ander.
Kom deel ook in die absolute vreugde van die skrywes van Audrey Blignaut, AG Visser en Fanus Rautenbach sowel as die jongeres soos Loftus Marais.
Die vertoning begin Saterdag 20:00 en pizzas en drinkgoed kan al van 18:00 gekoop word. Kaartjies kos R100 en kan bespreek word by teater@ breytenbachsentrum.co.za of by Jessica by 021 873 2786. . Kom ontmoet en verwelkom Chris môreaand (Vrydag 15 November) tussen 17:00 en 21:00 onder die bome by Die Bôrdienghuis in Burgerstraat 14, Wellington, vir ’n gesellige Gin&Jazz-kuier. Pizzas en ’n kroeg is beskikbaar en kaartjies kos R50 by die ingang.