‘n Bejaarde vrou van Paarl-Oos, Joan Joyi, is in haar huis vermoor.


‘n Bejaarde vrou in haar tagtigs is gisteraand (2 Desember) in haar Charleston Hill huis in Paarl-Oos oorval en vermoor.

Die voorval het omstreeks 22:00 plaasgevind naby Elrichesingel, waar ‘n bekende inwoner van die gebied, Joan Joyi (nee Carolissen), gewoon het saam met haar oppasser.

Volgens inligting van ‘n nabye familielid, het Joan twee mans wat glo bekend was aan haar die huis binnegelaat. Hierna is sy en haar oppasser oorval en vasgebind, waarna die verdagtes die huis geplunder het op soek na waardevolle goedere. 

Joan is vermoedelik met ‘n tou verwurg.

Nadat die mans gevlug het, het Joan se oppasser daarin geslaag om haarself los te kry en sy het ‘n sekuriteitsmaatskappy om hulp gekontak.

Die polisie fynkam tans die misdaadtoneel vir leidrade. Niemand is in hegtenis geneem nie.

Paarl-Oos polisiewoordvoerder, Kapt. Basil Seekoei, het die voorval bevestig en gesê dat hulle ‘n saak van moord en huisroof ondersoek. 

You need to be Logged In to leave a comment.