’n 83-jarige man is ’n rat voor die oë gedraai toe hy sowat drie weke gelede op die stoep van Huis Vergenoegd beroof is sonder dat hy dit onmiddellik agtergekom het.
Volgens Nico Langenhoven, ’n afgetrede byeboer, het hy ouder- gewoonte na ’n nabygeleë winkel gestap om ’n paar benodigdhede te koop. Hy sê hy volg gereeld die roete en vermoed die dief het hom ’n geruime tyd dopgehou.
“Toe ek op die stoep van die tehuis kom, het die man my uit die bloute benader en ’n rugsak teen my bors gedruk. Hy gesê ek kan dit by hom koop of ek kan dit net vir my vat.
“Vir ’n oomblik kon ek hom nie hoor nie en ek het nog gevra dat hy moet herhaal wat hy gesê het. Dit was eers toe ek bo by my kamer kom dat ek sien my foon is weg.”
Volgens Langenhoven het hy sy selfoon in sy hemp se sak gehad, aan die regterkant van sy bors, en die dief het die rugsak teen sy linkerbors gedruk. Die vermoede is dat die dief op daardie oomblik die selfoon gegaps het sonder dat Langenhoven dit agtergekom het.
Hy het intussen ’n klagte by die Paarl-polisie ingedien, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“Ek het agtergekom die manier waarop ek beroof is, is ’n algemene ding nadat ek en van die inwoners van die tehuis gesels het. Mense moet baie waaksaam wees teen kansvatters wat jou sonder jou wete wil beroof.”

