’n 76-jarige vrou van Denneburg in Paarl is Donderdagagaand (23 Oktober) in haar erf oorval, gewurg en vir ure buite gelaat nadat sy haar aanvaller ontvlug het.
Volgens inligting wat aan Paarl Post bevestig is, het die voorval omstreeks 22:00 by die vrou se woning in Muskadelstraat plaasgevind. Die slagoffer het, volgens ’n buurvrou en vriendin, buite in haar erf gesit en na die radio geluister toe sy deur ’n onbekende verdagte oorval is.
Sy het glo alleen in die huis gebly.
Sers. Welsey Twigg, ‘n woordvoerder van die provinsiale polisiekantoor, het die insident bevestig. Volgens hom ondersoek die Paarl-polisie ’n saak van huisroof.
Die buurvrou, wat anoniem wou bly, vertel dat die bejaarde iemand in haar erf hoor hardloop het voordat sy op die grond gestamp is en op haar maag beland het. Die aanvaller het glo op haar rug gaan sit, haar nek agteroor gebuig en haar gewurg.
Die slagoffer het daarna voorgegee dat sy haar bewussyn verloor het.
Die verdagte het toe sleutels geneem en toegang tot die woning gekry waarna hy die bejaarde se selfoon gesteel het. Twigg het bevestig dat die verdagte glo ook klere gesteel het.
Nadat die verdagte klaar was, het hy glo aan die bejaarde se nek gevoel vir ‘n polsslag en is daarna skoonveld.
As gevolg van ’n bestaande rugbesering, wat vererger is toe die aanvaller op haar rug gesit het, kon sy nie opstaan om hulp te ontbied nie en moes sy die hele nag buite deurbring.
Teen die oggend het sy op haar hande en knieë na binne gekruip en op haar voorstoep gaan sit, waar sy na haar buurvrou om hulp geroep het. Die buurvrou het omstreeks 08:00 die Paarl-polisie ontbied.
Vanoggend is haar keel en ‘n gedeelte van haar gesig glo potblou soos sy gewurg is, het die bron gesê.
Volgens haar was dit die eerste ernstige gewelddadige insident in dié gedeelte van Denneburg. Sy en die slagoffer woon al sowat 40 jaar in die buurt.
Die buurvrou sê dat die bejaarde aangedui het dat sy moontlik haar aanvaller ken.

Sy sê die aanvaller het nie ’n woord gepraat het nie, moontlik om te keer dat sy sy stem herken.
Hy het ook blykbaar geweet watter sleutels die verskillende deure oopsluit, veral die sydeur na die motorhuis.
Die feit dat die bejaarde se aanvaller haar ook nie vasgebind het nie, beteken dalk, vir die bejaarde se buurvrou dat die aanvaller kon geweet het sy het ‘n rug probleem en moeilik sou kon opstaan en stap.
Toe Paarl Post omstreeks 11:30 by die toneel arriveer, was metro-ambulanspersoneel besig om die bejaarde op ’n draagbaar te laai en na die hospitaal te vervoer.
Inligting oor die verdagte is tans onbekend. Enigiemand met inligting oor hierdie voorval word versoek om Misdaad-hulplyn by 08600 10111 te kontak.
Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik aanlyn gepubliseer is.


