Dit was veronderstel om Saterdag (25 Oktober) ‘n gesellige familiebyeenkoms te wees om die verjaarsdag van Thomas en Anne-Marié Rossouw se kleinkind te vier. Die egpaar van Klapmuts is egter weggeruk toe hulle in ‘n noodlottige botsing op die R44 betrokke was. Die verjaarsdaggeskenk, nog netjies toegedraai, is later in die wrak gevind.
“Ons is gebreek,” het ‘n seun van die egpaar, Rupert Rossouw, in trane oor die skielike afsterwe van sy ouers gesê.
Hy vertel dat sy ouers, ook beter bekend as Tom en Ansie, by hom en sy gesin op die plaas Arra reg langs die R44 gewoon het.
“Ons is oorspronklik van Noordwes en het in 2017 na die Wes-Kaap verhuis. Hierdie Desember woon ons amptelik ‘n jaar op Arra,” vertel Rupert.
“Dit is ‘n ongelooflik moeilike tyd – iets wat ek in my wildste drome nie kon verwag het nie,” sê hy oor die voorval.
“My pa en ma was ‘n ouma en ‘n oupa wat baie lief vir hul kinders was. Die seer is so rou op die oomblik. Ons weet nie wat gebeur het nie. Ons het soveel vrae, maar wat ek wel kan sê, is met al die pyn en die seer is die Here se genade vir ons so groot op die oomblik. My ma en pa was gelowige mense; kinders van die Here. Al wat hulle sou wou gehad het, is dat ons as kinders moet vashou aan die Here en nooit laat gaan nie.”
Voordat die egpaar afgetree het, het Thomas (69) jare lank in die noorde met mielies geboer, terwyl Anne-Marié (65) met die skape en lammers geboer het.

Volgens Rupert het sy seuntjie Vrydag (24 Oktober) sy vyfde verjaarsdag gevier. Hulle het ‘n partytjie vir die volgende dag beplan en baie familielede was op pad na die plaas om die dag saam met hulle deur te bring.
Tom en Ansie is die oggend voor die partytjie weg van die plaas af om ‘n geskenk in die Paarl te gaan koop.
Die botsing het by die ingang na Arra gebeur toe hulle op pad terug was.
“Ek was bo by Arra en ek het [‘n foto van] die ongelukstoneel en my ouers se motor gesien wat op die WhatsApp-groep van die plaaswag deurgekom het.
“Dis hoe ek geweet het my ma-hulle was in ‘n ongeluk.
“Ek is baie seer. My ma en my pa het erg seergekry in die ongeluk. My pa is op slag dood, maar nie my ma nie. Sy is oorlede toe paramedici haar uit die motor haal.
“Ek is die Here dankbaar dat Hy hulle saam kon kom haal het, want ek dink nie hulle sou sonder mekaar kon leef nie. Dit is eintlik ‘n wonderwerk.”
Hy onthou hoe hulpeloos hy gevoel het toe hy by die toneel opdaag, vertel Rupert.
“Ek is ook ‘n first responder, maar die manier hoe ek daar reageer het, kon ek nie glo nie.
“Ek het op my knieë neergeval en dit was so onwerklik om my pa en ma in daai situasie te sien.”
Familie wat na die plaas op pad was, het in die verkeersopeenhoping weens die ongelukstoneel in die verkeer vasgeval.
“My seuntjie se verjaarsdaggeskenk was nog toegedraai in die motor toe ons dit uitgehaal het. Oupa en ouma het vir hom gaan Boerboel-klere koop. Dit was baie spesiaal.”
Rupert sê met al die medelye wat in- stroom, besef hy sy ouers se harte was altyd net oop vir ander mense.
“Soveel mense het na hulle opgekyk en was lief vir hulle en die verandering wat hulle in ander mense se lewe gebring het.”
Die bejaarde egpaar word oorleef deur nog ‘n seun, Marnus Rossouw, en ‘n dogter, Annerien Rossouw, asook vier kleinkinders.
“Ek wil die mediese personeel wat op die toneel was, bedank vir hul liefde, hul omgee en die hulp wat hulle vir ons en ons gesin verleen het,” sê Rupert toe hy weer in trane uitbars. “Ons kon gevoel het hoe die Here op die toneel gewerk het en dat ons rus en vrede het. Dit is die belangrikste. Ons is nie kwaad nie. Ons het geen woede nie. Ons besef dit was ‘n ongeluk en ons hoop almal wat die botsing sien gebeur het, hul sake met die Here regmaak en besef dat die tyd bitter kort is. As dit is wat my ma en pa se legacy kan wees – om mense na Jesus toe te lei – laat dit so wees.”
Tom en Ansie word volgende Saterdag (8 November) ter ruste gelê. Die begrafnis word dan gehou om familie van oor die land heen kans te gee om na Kaapstad te reis.
• AO Christiaan Paulse van die Klapmuts-polisie het die botsing, waarby vier voertuie betrokke was, bevestig. Hy sê dit het net ná 14:00 gebeur.
“‘n Ander voertuig het van agter af teen die voertuig waarin die twee oorledenes gery het, vasgery. Met die impak is die bejaardes se voertuig vorentoe geslinger en dit het ‘n ander voertuig getref, wat in die teenoorgestelde rigting aangery gekom het. Daardie voertuig het toe op sy beurt nóg ‘n ander voertuig getref, wat ook in die teenoorgestelde rigting gery het.”
Paulse sê die insittendes van die ander voertuie het ligte beserings opgedoen. ‘n Klagte van strafbare manslag word deur die Klapmuts-polisie ondersoek.
• In nog ‘n motorongeluk Sondagaand (26 Oktober) het drie mense ernstige beserings opgedoen toe ‘n bakkie en ‘n kleiner motor by die aansluiting van die R45 en die Lady Loch-pad buite Wellington gebots het.






You must be logged in to post a comment.