Ek het verlede week (9 Augustus) vir ’n bejaarde vrou wat ons ken, ’n afspraak by die Diabetes-kliniek gemaak, want ek het gedink sy is “naby aan doodgaan”.
Die praktyk bel toe so 13:00 om te sê dat die dokter daar sê sy moet so gou as moontlik na ongevalle gaan omdat sy ’n dreigende beroerte het. Haar suikervlak was 25.
Ek het haar dogter gebel (nadat ek haar toe eers huis toe gevat het) en haar dogter het haar toe 14:00 Paarl-hospitaal toe geneem. Daar aangekom het hulle die dokters se brief aan die personeel oorhandig wat verduidelik hoe ernstig haar toestand is.
Om 16:38 is hulle steeds nie gehelp nie. Intussen het iemand haar suiker gemeet en gesê dit is slegs 18, “so sy is nie ’n noodgeval nie”.
Ek het 18:00 kos geneem en toe sit hulle steeds en wag. Ouma het toe al vir hulle gesê dat sy baie pyn het – waarna sy twee panado’s gekry het. Om 18:30 het hulle begin skofte ruil en het ons aanvaar dat sy (wat in ’n rolstoel die naaste aan die “ontvangs” gesit het), eerste gehelp sal word.
Ek het intussen Mediclinic gebel, maar dit sal duisende rande kos, want hulle is nie lid van ’n siekefonds nie.
Die volgende oggend hoor ek sy sit steeds waar sy gesit het en dat die nuwe skof nie weer pasiënte geroep het nie.
Teen 11:01 was sy steeds op die drup waarop sy vroeër gesit is en hulle het haar (oopgebarste) groottoonwond met ’n “blade” skoongemaak.
Sy is teen 13:00 ontslaan sonder enige pynmedikasie met die boodskap om gister (21 Augustus) en die res van die week, kliniek toe te gaan en ook terug na die dokter as dit nie beter word nie.