Thomas Geduld, ’n 66-jarige bejaarde inwoner van Wellington, eis geregtigheid nadat lede van die polisie se teen-bende-eenheid hom en sy neef se seun (kleinneef) glo tydens ’n optrede by sy huis in Crawfordstraat “gemartel” het.
Geduld se skedel was op verskeie plekke gekneus, terwyl Bradley Ben (44), sy neef se seun, glo deur die polisielede met ’n warm strykyster gebrand is.
Geduld het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat die voorval op 25 Februarie gebeur het nadat die polisie sy huis vir vuurwapens wou deursoek.
“Hulle het hier ingehardloop en net begin skop en trap van ’n kant af. Hulle het reguit na my toe gekom en gevra waar die guns (vuurwapens) is.
“Ek het dit duidelik gemaak dat ek geen guns in my besit het nie. Ek het nie ’n lisensie daarvoor nie, so hoekom moet ek die goed onwettig aanhou? Die polisieman het toe gesê ek moet nie vir my ‘sterkgevreet’ hou nie en gee my toe ’n harde vuishou op die mond.”
Geduld vertel hoe hy daarna deur ’n paar polisielede “geskop en getrap” is nadat hy homself en sy familie wou beskerm.
Sy familielede is volgens hom almal in een losstaande eenheid op sy erf ingedwing, waarna hy en Ben by die huis “ingesleep” is.
“Ek het hier op hierdie bank gesit en my kop vasgehou terwyl hulle my aanhoudend geslaan het. Ek was in pyn. Ek het net gehoor hoe skree my neef se seun uit die ander vertrek – die polisielede was besig om hom met ’n strykyster te brand. Hulle was oortuig ons het vuurwapens hier en wou ons laat praat. Ons is gemartel,” het Geduld vertel.
Een van die beamptes het glo Geduld se tienerseun se selfoon gegryp en die beeldmateriaal van die voorval daarvan verwyder.
“Wat hier gebeur het, was nie net onwettig nie, maar ook vernederend – om so voor my familie aangerand te word. Dit is nie die eerste keer nie.
“Hulle was in Julie laasjaar hier en het toe juis belowe dat hulle nie klaar is met my nie. Ek is ’n pensioentrekker. Wat moet ek met vuurwapens maak? Hulle het my huis en my lewe kom omkrap,” het hy bygevoeg.
Paarl Post het Geduld se mediese verslag onder oë gehad, waarin die Paarl-hospitaal sê ’n groot deel van sy skedel was gekneus en die basis daarvan het ’n breuk opgedoen.
Volgens die verslag het ’n been in die omgewing van sy mond ook ’n fraktuur opgedoen.
Ben is vir die brandwonde weens die warm strykyster op sy rug en arms behandel.
Geduld sê ongeveer R5 900 se kontant het tydens die soektog verdwyn, wat hy beweer deur die polisielede gevat is.
Dié geld is glo wins van sy informele sakeondernemings waar hy vleisprodukte aan inwoners in sy buurt verkoop.
Die twee mans eis onder meer dat die skuldige beamptes strafregtelik vervolg en dat hul mediese koste gedek moet word.
Geduld sê hy oorweeg ook om ’n siviele eis teen hierdie eenheid van die polisie in te stel.
Die voorval word deur die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek, het kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, aan Paarl Post by navraag bevestig.