Inwoners van Drakenstein wat reeds onder finansiële druk gebuk gaan, is in vir nog ’n skok wanneer die munisipale begroting binne die volgende maand waarskynlik ingestem sal word.

Die verbruiker sal veral swaar getref word deur nog ’n stewige styging in elektrisiteitstariewe van byna 9%. Dit alleen het ’n uitkring-effek op baie ander prysstygings. Dan vorder die munisipa­liteit ook ’n onaanvaarbare basiese tarief op kragvoorsiening nog voordat ’n enkele krageenheid deur die verbruiker gebruik word.

En boonop bly die eindomsevaluasie-spook steeds dwaal met nog ’n styging hiervan, wat Drakenstein se eiendomsbe­lasting van die duurste in die Wes-Kaap maak. ’n Mens kan nie anders nie as om te wonder of die blinkskoene van die munisipale hoofkantoor self binne hul eie geledere kostebesnoeiings aanbring voordat die publiek hiermee belas word.

Vrae is, onder meer, wat was die munisipale salarisverhogings die afgelope jaar – veral vir diegene wat reeds binne die sessyfer-kerf en meer is, en gaan prestasiebonusse betaal word?

Wat doen die munisipaliteit aan skuldinvordering van verlore inkomste, wat jaarliks miljoene rande beloop?

Hoekom verkoop of verhuur die munisipaliteit sy oortollige erwe en persele wat miljoene rande werd is vir slegs ’n fraksie van die waarde?

Wanneer gaan ’n daadwerklike poging aangewend word om diegene wat veror­deninge oortree – ’n inkomstestroom wat erg deur die Drakenstein-munisipali­teit verwaarloos is – kragtig te beboet?

Die lys gaan aan . . .

You need to be Logged In to leave a comment.