Die minister van finansies, Enoch Godongwana. Foto: GCIS


Agri Wes-Kaap is positief oor die uitkoms van vanjaar se begrotingsrede weens die menige landboukwessies wat minister Enoch Gondongwana aangeraak het.

Volgens die minister is die hoop met vanjaar se begroting om broodnodige ekonomiese groei te bevorder.

Agri Wes-Kaap is van mening dat die investering in die landbou ’n kritieke rol in ekonomiese groei speel.

Belastingkoerse

a) Brandstofheffing

Brandstof, wat van die grootste insetkoste in primêre landbouproduksie is, asook ’n enorme koste-komponent in die breër landbou-waardeketting, het oor die afgelope jaar buitensporig duur geword.

Agri Wes-Kaap is daarom verlig dat die algemene brandstofheffing en die padongeluksfondsheffing nie wéér verhoog gaan word nie.

“Agri Wes-Kaap verwelkom ook die aankondiging dat die huidige prysmodel vir brandstofpryse hersien sal word,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

b) Aksyns op alkohol

Die wynbedryf is tans besig om te herstel van die impak wat die plaaslike drankverbod en reisbeperkings op die bedryf se onderskeie inkomstestrome gehad het.

“Agri Wes-Kaap is dankbaar dat die verhoging in aksyns in ooreenstemming met inflasie is,” voer Strydom aan.

Infrastruktuur en veiligheid

In pres. Cyril Ramaphosa se Staatsrede is meermale gepraat van ingrypings om infrastruktuur-aangeleenthede in Suid-Afrika aan te pak.

Agri Wes-Kaap verwelkom die ondersteuning wat in die begrotingsrede aangekondig is om hierdie projekte te finansier.

Eskom se skuldvlakke is steeds ’n groot bekommernis vir Agri Wes-Kaap.

Hoewel ’n addisionele R88 miljard tot 2025-’26 aan die nutsmaatskappy bewillig is om sy skuldvlakke te konsolideer, is Agri Wes-Kaap bemoedig deur die minister se verwagting van Eskom om daadwerklike aksies te implementeer om kostebeheer te verbeter.

Dit is voorts verblydend om te hoor dat die Nasionale Tesourie aan ’n volhoubare oplossing werk om Eskom se skuld te hanteer op ’n wyse wat billik en regverdig teenoor alle belanghebbendes is.

“Agri Wes-Kaap is dankbaar vir die addisionele R9,9 miljard wat aan Sanral geallokeer is vir die instandhouding van die nie-tolpadnetwerk,” sê Strydom.

Hy voer verder aan: “Minister Godongwana se aankondiging dat daar inisiatiewe oor die mediumtermyn begin gaan word om die doeltreffendheid van hawens te verbeter asook spoorweë se kapasiteit uit te brei, is goeie nuus vir die landbousektor.”

Hierdie inisiatiewe sluit onder meer derdepartytoegang in en sal beoog om Transnet se logistieke uitdagings – insluitend lokomotiefbeskikbaarheid, kabeldiefstal, spoorvandalisme en hawevertragings – aan te spreek.

Agri Wes-Kaap is veral positief oor die R2,1 miljard wat bewillig is vir die verhoging van die Clanwilliam-damwal en vertrou dat die addisionele geld die voltooiing van die projek sal versnel.

Agri Wes-Kaap verwelkom ook die aankondiging van R8,7 miljard wat tot die polisie se begroting toegevoeg is. “Landelike veiligheid is vir Agri Wes-Kaap uiters belangrik en daarom verwelkom ons die addisionele fondse wat daar aan die polisie beloof is,” sê Strydom.

“Hy voer aan Agri Wes-Kaap vertrou dat die geld onder meer gebruik sal word vir die opleiding en aanstellings van 12 000 bykomende polisielede, soos beloof in president Ramaphosa se staatsrede.

Die bewilliging van R1,3 miljard aan die landbouproduksie-, biosekuriteit- en hulpbronbestuursprogram in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vir onder meer biosekuriteit is ook goeie nuus vir die sektor.

“Ons is dankbaar dat soveel landboukwessies die nodige aandag sal geniet,” sluit Strydom af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article