Begrafnisse, sport gekanselleer as gevolg van swaar reën

Geen begrafnisse sal vanaf 15 tot 19 Junie plaasvind in enige van Drakenstein-munisipaliteit se begraafplase nie.

Credit: SYSTEM

Begrafnisse wat geskeduleer is om vanaf 15 tot 19 Junie plaas te vind by enige begraafplaas in die Drakenstein munisipale gebied is gekanselleer.

Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het plaaslike ondernemers hiervan ingelig op Woensdag (14 Junie). Dit kom nadat verskeie dorpe in Drakenstein oorspoel het na dae lange swaar reën..

In sy skrywe sê Esau: “Die gure weerstoestande maak dit tans onmoontlik en onveilig om voort te gaan met enige vorm en voorbereiding vir begrafnisse in enige van ons begraafplase. Dit is belangrik vir Drakenstein-munisipaliteit om by te dra tot ’n omgewing waar gesinne hul geliefdes op ’n waardige wyse kan begrawe.

“Die weervoorspelling toon nog meer swaar reën in die dae wat kom wat ook ons daaglikse bedrywighede negatief belemmer. As gevolg van bogenoemde sal geen begrafnisse vanaf 15 tot 19 Junie in ons begraafplase plaasvind nie, en ons sal die voorwaardes vir begrafnisse op Maandag, 19 Junie assesseer en sal alle relevante belanghebbendes in die waardeketting behoorlik inlig.”

Alhoewel hierdie nat weer buite die beheer is van die munisipaliteit, sê ’n plaaslike ondernemer, maak dit nie die las wat op sy besigheid rus en begrafnisondernemers ligter met begrafnisse wat nie kan voortgaan hierdie naweek nie.

“Wat nog uitstaan is dat ons sit met geweldige druk met die krematorium [wat tydelik gesluit is]. Ons kliënte vertrou nie meer vir ons nie. Ons kliënte, veral die ouer geslag, verstaan nie dat die liggame lê amper ’n week of twee voordat dit veras word. Dit gaan al vir amper drie maande so aan.”

Die munisipaliteit het verder op sy sosiale blad laat weet dat enige sport aktiwiteite wat by enige van die munisipaliteit se sportgronde Saterdag (17 Junie) sou plaasvind ook gekanselleer is.

“Dit is om verdere skade aan die sportvelde te voorkom en om moontlike beserings aan spelers te voorkom, asook om voorsiening te maak vir waardige begrafnisse. Die munisipaliteit sal die sportverenigings en -gemeenskappe deurlopend op hoogte hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article