Mense, insluitend kinders, wat op die hoek van Lady Greystraat en Jan van Riebeeck-rylaan bedel, is ’n konstante probleem en veiligheidsrisiko vir motoriste.
Dié brandpunt, waar motoriste gereeld verpes word, is weer in die kollig nadat ’n gereelde bedelaar glo onlangs tydens spitsverkeer halfnaak gestaan het.
“Dit was nie ’n mooi prentjie om iemand se geslagsdele te aanskou terwyl ek moes wag vir die verkeerslig om groen te raak nie. Dit laat ’n mens ongemaklik voel, hoewel dit lyk asof die man nie eens weet sy besigheid hang buite nie. Ná ’n lang dag se gewerk is dit wragtig nie iets wat ek wil aanskou terwyl ek in die verkeer sit nie. Die mannetjie word gereeld op sosiale media geplaas oor hy soms aggressief is wanneer hy nie sy sin kry nie. Iets daadwerkliks sal aan die probleem gedoen moet word, want dit is nie net inwoners wat gebruik maak van daardie pad nie. Dit is nie die manier hoe ons besoekers in ons dorp wil ontvang nie,” sê ’n motoris oor die voorval.
Paarl Post het vroeër oor die probleem berig en die kwessie weer eens by die Drakenstein-munisipaliteit geopper, met verwysing na wetstoepassing by die spesifieke gebied waar bedelary ’n toenemende probleem is.
Eda Barnard, die munisipaliteit se direkteur van openbare veiligheid, het op die navraag geantwoord:
“Die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling doen daadwerklike stappe om hierdie kwessie aan te durf deur die gebiede wat as bedelaar-brandpunte bekendstaan, daagliks vir die oortredings van verordeninge te monitor.
“Indien die publiek enige oortredings van [munisipale] verordeninge bespeur, moedig die munisipaliteit hulle aan om dit alle ure tolvry by die munisipaliteit by 021 807 8508 of 080 131 3553 aan te meld.”