Die koste van elektrisiteit is tans oral ’n warm besprekingspunt.
Inwoners van die Drakenstein-vallei kla dikwels hieroor.
Veral die hoë basiese maandeliks heffing voordat ’n enkele eenheid krag aangekoop word, het verbruikers behoorlik aan die praat.
Baie dink daar is ’n slang in die gras en bevraagteken waarom hulle op verskillende tye van die maand ’n hoër heffing moet betaal as hulle krag koop. Die publiek voel die munisipaliteit buit hulle uit.
Een voorbeeld hiervan is iemand wat ’n maandelikse basiese heffing van R744,74 vir ’n 60-ampére-hoofstroombreker betaal – dit nog voordat enige krag vir die maand gekoop word.
Maar ’n soortgelyke huishouding van die Stad Kaapstad betaal vir dieselfde 60 ampére ’n basiese heffing van R245,03.
Bradley Brown, finansiële hoof van die Drakenstein-munisipaliteit, meen Drakenstein se tariewe is nie onbillik nie.
Hy verduidelik soos volg:
“Eerstens het die munisipaliteit weinig beheer oor tariefverhogings. Dít word jaarliks deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) bepaal.
“Tweedens is die eenheidstarief van elektrisiteit in Drakenstein elke dag van die maand dieselfde. Hierdie eenhede sal of kan slegs vinniger opraak indien die elektrisiteitsverbruik verhoog, byvoorbeeld in die winter wanneer tuimeldroërs en verwarmers meer gebruik word, of in die somer wanneer lugreëling-gebruik toeneem.
“Derdens is ’n vergelyking tussen die Drakenstein-munisipaliteit en die Stad Kaapstad se elektrisiteitstariewe nie noodwendig ’n appels-met-appels- vergelyking nie.
“Die Stad Kaapstad het ’n vaste maandelikse basiese heffing van R245,09, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit ’n basiese heffing het wat verhoog word namate die grootte van die ampère-aansluiting verhoog word.
“Hierdie styging in ons basiese heffing hou verband met die las wat die betrokke aansluiting op die munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk plaas en dienooreenkomstig die instandhoudingskoste op die netwerk verhoog.
“Ons verbruikers het ’n keuse om vir ’n laer ampère-aansluiting aansoek te doen sou hul elektrisiteitsaanvraag op ’n gegewe tydstip so ’n verlaging regverdig en/of moontlik maak.
“Talle plaaslike owerhede volg tans die munisipaliteit se voorbeeld deur ’n stygende basiese heffing in te stel.
“Die munisipaliteit se huishoudelike basiese tarief is gemiddeld met 4,97% vir die 2024-’25-boekjaar verhoog.
“Die Stad Kaapstad daarenteen het weer ’n eenheidstariefstruktuur wat styg namate die maandelikse elektrisiteitsverbruik vermeerder, terwyl die Drakenstein-munisipaliteit ’n vaste eenheidstariefstruktuur vir elke verbruikerskategorie (huishoudelik, sake, landbou en so meer) het, ongeag die volume krag wat verbruik word.
“Die Drakenstein-munisipaliteit se eenheidstarief is gemiddeld met 8,56% vir die 2024-’25 boekjaar verhoog.
“Die Drakenstein-munisipaliteit sowel as die Stad Kaapstad se elektrisiteitstariewe word jaarliks deur Nersa goedgekeur – juis om te verseker dat die verbruiker nie ‘genadeloos gemelk’ word nie,” het Brown bygevoeg.