Susana de Villiers van Wellington wat in Bainskloof met haar agterkleinkinders afgery het.
Susana de Villiers (70). Foto: Argief

Susana “Sarie” de Villiers (70), die Wellingtonse oumagrootjie wat in 2021 met haar drie agterkleinkinders by die Bainskloofpas afgery het, het vandag (14 Mei) vlugtig in die streekshof in Worcester verskyn waar daar uitgebrei is oor die getuies wat die verdediging in die verhoor wil roep.

Daar is op ‘n verhoor besluit na ‘n vorige hofverskyning op 28 Maart, nadat die staat De Villiers se skuldige pleidooi verwerp het.

Tydens haar pleidooi het sy by monde van haar regsverteenwoordiger, advokaat Sakkie Maartens, aangevoer dat alhoewel haar “aksies verkeerd was,” sy steeds verminderde vermoë gehad het tydens die voorval omdat sy onder ernstige emosionele stres was, en nie in staat was om haar optrede ten volle te verstaan of haar gedrag te beheer nie.

Die staat voer egter aan dat sy by haar gesonde verstand was tydens die drie beweerde moorde.

Volgens Maartens, wat aangestel is deur die prokureursfirma Sarien Engelbrecht Prokureurs in Wellington, beplan die verdediging om vier getuies te roep.

Hierdie getuies sluit in Charl Prinsloo, Paarl-hospitaal se hoofpsigiater, asook Sunet Bodenstein, ‘n psigiater wat ten tyde van De Villiers se opname in die Paarl-hospitaal se psigiatriese-eenheid haar ook ondersoek het.

De Villiers is op 14 September 2023 opgeneem waartydens sy deur dié twee dokters geëvalueer is.

Sy is daarna ook deur die Valkenberg-psigiatriese hospitaal op 20 Junie 2024 ondersoek nadat die eerste psigiatriese verslag teenstrydighede bevat het.

Die verslag van Paarl-hospitaal het aangevoer dat De Villiers toerekeningsvatbaar is, maar ook dat sy verminderde vermoë ten tyde van die ongeluk gehad het.

Volgens die Valkenberg-verslag het “haar [De Villiers se] optrede rakende die tyd [van die ongeluk in Bainskloof] gelyk asof dit doelgerig, maar impulsief was. Haar optrede was nie as gevolg van ‘n geestesongesteldheid nie [en] sy is bewus van die aanklagte teen haar en sal haar prokureur opdragte kan gee.”

Die oorblywende twee getuies wat die verdediging gaan roep, is onbekend.

Die staat voer aan dat De Villiers op 20 November 2021 sowat 80 m by die berg van Bainskloofpas afgery het.

Caleb (agter; 8), Gradwell (links; 5) en Joshua (2) Booysen.
Caleb (agter; 8), Gradwell (links; 5) en Joshua (2) Booysen. Foto: Argief

Haar agterkleinkinders Caleb (8), Gradwell (5) en Joshua (2) Booysen is dood terwyl sy die ongeluk oorleef het.

Die drie kinders het die dag by De Villiers, haar man, Ivan, ‘n prokureur in Wellington, en hul oupa, Carl Smit, gekuier.

De Villiers is later die middag met die kinders in haar motor weg, waarna sy deur die versperrings by Bainskloofpas, wat opgerig is weens die destydse padwerke, gery het.

Op die kruin van die pas het die motor waarin sy en die drie kinders gery het teen die berg afgestort.

Die beskuldigde se agterkleinkinders was op daardie stadium reeds ses maande in die sorg van pleegouers in Wellington weens dwelmmisbruik van die oorledenes se ouers.

Volgens die Valkenberg-verslag kon hierdie omstandighede waarin De Villiers se agterkleinkinders geleef het, haar oorweldig — ‘n gevoel wat moontlik kon bydra tot die beweerde moorde.

Dit is waarskynlik dat al vier getuies van die verdediging aan kruisondervraging deur die staat onderwerp sal word.

Die staat het aangevoer dat hulle geen getuies gaan roep nie, en sal slegs dokumente indien om hul argument te staaf.

Maartens het tydens vandag se hofverskyning genoem dat ‘n skuldigbevinding deur die regter nie uitgesluit kan word nie.

Die verhoor is geskeduleer vir 4 en 5 November 2025, as gevolg van ‘n reeds oorvol hofrol. Al vier getuies sal dan getuig.

You need to be Logged In to leave a comment.