Hulle vertel van die spookmeisie van Uniondale, maar ’n soortgelyke legende bestaan oor die “spookmotor” van Bainskloof.
Op ’n reënerige Vrydagaand in November 1946, het ’n sekere Thomas J. Hadfield oor Bainskloof in die rigting van Ceres gery waar hy by sy nooi sou gaan kuier.
So ’n hele ent weg op sy pad het hy skielik die rooi agterligte van ’n motor voor hom in die pad gesien. Die motor het stadig in dieselfde rigting as hy gery en hy het die motor begin inhaal.
Skielik, en sonder enige klaarblyklike rede, gly die voorste motor en verdwyn oor die afgrond.
Hadfield het dadelik stilgehou en met sy flitslig is hy te voet agter die motor aan. Dit het hom ongeveer ’n halfuur geneem om by die motor uit te kom.
Daar vind hy toe dat die bestuurder, sy vrou en twee kindertjies almal dood is, maar dat die kinderoppasser nog gelewe het.
Hy het die oppasser se kop met sy serp verbind en toe weer opgeklim na die pad toe om hulp te gaan soek.
’n Sersant Pieterse en konstabel Gerhard Beukes is toe saam met hom na die ongelukstoneel. Weer is hulle die berg af, maar toe hulle by die plek kom waar die motor gelê het, was die motor weg.
Hulle het oral gesoek, maar niks gekry nie. Teen daardie tyd was die polisie al ergerlik.
Hulle het verder gesoek en na ’n hele ruk wel sy serp gekry, met geen bloed aan nie.
Die volgende oggend het die polisie by Hadfield opgedaag en aan hom gesê dat die ongeluk wat hy beskryf het, 4 November in 1924 gebeur het. Die Kruger-gesin (man, vrou en twee kinders en hul kinderoppasser) was in die motor.
Slegs die kinderoppasser het aanvanklik gelewe en hulp gaan soek, maar ongeveer 100 m verder is sy ook dood.
Hadfield het nie geweet van die ongeluk nie en die kwessie bly onverklaarbaar