Susana “Sarie” de Villiers (69), die Wellingtonse oumagrootjie wat met haar drie agterkleinkinders by die Bainskloofpas afgery het, het vandag (28 Maart) in die streekshof in Worcester verskyn waar sy skuldig gepleit het vir die moord op haar drie agterkleinkinders.
Die staat voer aan dat De Villiers op 20 November 2021 sowat 80 m by die berg van Bainskloofpas afgery het.
Haar agterkleinkinders Caleb (8), Gradwell (5) en Joshua (2) Booysen is dood terwyl sy die ongeluk oorleef het.
Die drie kinders het die dag by De Villiers, haar man, Ivan, ’n prokureur in Wellington, en hul oupa, Carl Smit, in Wellington gekuier.
De Villiers is later die middag met die kinders in haar motor weg, waarna sy deur die versperrings by Bainskloofpas, wat opgerig is weens die destydse padwerke, gery het.
Op die kruin van die pas het die motor waarin sy en die drie kinders gery het teen die berg afgestort.
Ná die ongeluk was sy weke lank in die Paarl-hospitaal waar sy deur die hospitaal se psigiatriese afdeling geëvalueer is, voordat sy na Valkenberg vir verdere evaluasie gestuur is.
De Villiers het tydens haar hofverskyning by monde van haar regsverteenwoordiger, advokaat Sakkie Maartens, aangestel deur die prokureursfirma Sarien Engelbrecht, gesê dat sy “impulsief besluit om [haar agterkleinkinders] van verdere ellende en mishandeling te verlos deur hul lewens te beëindig en [haar] eie te neem”.
Die beskuldigde se agterkleinkinders was op daardie stadium reeds ses maande in die sorg van pleegouers in Wellington weens dwelmmisbruik van die oorledenes se ouers, en het by De Villiers en haar man die dag van die ongeluk gekuier.
Volgens die Valkenberg-verslag, wat op 20 Junie 2024 deur ’n paneel van drie mense opgestel is, en vir die eerste keer op 11 November 2024 as ’n hofbewysstuk ingedien is, het hierdie omstandighede waarin De Villers se agterkleinkinders geleef het, haar oorweldig — ‘n gevoel wat moontlik kon bydrae tot die moorde.
Die verslag het ook bevind dat De Villiers “nie geestelik siek is nie” en “geskik is om verhoor te word”.
Die verslag is aangevra nadat die eerste psigiatriese verslag wat deur die Paarl-hospitaal onder leiding van die hospitaal se hoofpsigiater Charl Prinsloo, uitgereik is, teenstrydighede bevat het.
Prinsloo se verslag het aangevoer dat De Villiers toerekeningsvatbaar is, maar ook dat sy verminderde vermoë ten tyde van die ongeluk gehad het.
“Haar [De Villiers se] optrede rakende die tyd [van die ongeluk in Bainskloof] het gelyk asof dit doelgerig, maar impulsief was. Haar optrede was nie as gevolg van ’n geestesongesteldheid nie [en] sy is bewus van die aanklagte teen haar en sal haar prokureur opdragte kan gee,” het die Valkenberg-verslag gelui.
“My emosionele toestand was ‘n warrelwind van emosies, insluitende wanhoop, frustrasie, hopeloosheid, desperaatheid en ‘n aanvaarding dat daar geen einde in sig was vir hul lyding en my volgehoue lyding as hul oumagrootjie wat hulle innig liefgehad het nie.”
Susana de Villiers
“My emosionele toestand was ‘n warrelwind van emosies, insluitende wanhoop, frustrasie, hopeloosheid, desperaatheid en ‘n aanvaarding dat daar geen einde in sig was vir hul lyding en my volgehoue lyding as hul oumagrootjie wat hulle innig liefgehad het nie,” het sy verder in die hof op 28 Maart by monde van haar regslui gesê.
“Ongeveer 20 km van ons huis af het ek van die pad af en oor ‘n krans gery met ‘n breek in die betonmuurversperrings en klippe langs die pad om al ons dood te veroorsaak. Ek gee toe dat die voormelde misdade met voorbedagte rade gepleeg is. Ek ontken egter dat daar vooraf beplanning betrokke was.”
“Ek wys daarop dat alhoewel ek van plan was om die lewens van my agterkleinkinders en myself te neem, my motief was om die oorledene en myself te spaar en te red van onbepaalde verdere lyding.”
Susana de Villiers
“Ek wys daarop dat alhoewel ek van plan was om die lewens van my agterkleinkinders en myself te neem, my motief was om die oorledene en myself te spaar en te red van onbepaalde verdere lyding.”
Alhoewel sy gesê het dat haar “aksies verkeerd was”, het sy steeds gepleit dat sy verminderde vermoë gehad het ten tyde van die voorval, omdat dat sy ernstige emosionele stres gehad het en nie in staat was om haar optrede ten volle te verstaan of haar gedrag te beheer nie.
Die staat het egter hierdie pleidooi weerlê.
Die verhoor is geskeduleer om op 14 Mei te begin om die verdediging kans te gee om deskundiges te identifiseer was as getuies geroep sal word om hierdie bewering te staaf.