Die blits-oplossing van kombinasieraaisels soos Rubik se Kubus is klaarblyklik ’n erkende internasionale breinspel genaamd “speedcubing”. Die huidige rekord vir die oplossing van ’n 3x3x3-kubus (soos Rubik s’n) is 3,47 sekondes en word gehou deur die Chinees Yusheng Du.
Dié spel se gewildheid in China het ook ’n nuwe model uit die stal van BAIC (Beijing Automotive Industrial Corporation) sy naam besorg, synde die Beijing C52X-sportnutsmodel met sy bekendstelling in Guangzhou verlede jaar ná ’n naamsoek-meningspeiling tot “Mofang” (Chinees vir Rubik se Kubus) gedoop is.
Hierdie naamkeuse is klaarblyklik grotendeels te danke aan die nuwe sportnuts se aanpasbaarheid, onder meer vanweë sy intelligente kajuit en digitale konnektiwiteit wat in samewerking met Huawei ontwikkel is.
Die Mofang is in Julie in China beskikbaar gestel en die nuwegeslag-sportnuts van die BAIC-groep het nou, skaars drie maande later, as die Beijing X55 II in Suid-Afrika aangekom.
Maar waarvandaan die Beijing-benaming?
Wel, sedert BAIC se ontstaan meer as 60 jaar gelede was Beijing in menige vorm deel van die motorreus se identiteit.
Die naam is onlangs weer as prestige-handelsnaam (soos Lexus vir Toyota, Haval vir GWM en Genesis vir Hyundai) afgestof om Senova te vervang.
Tog sukkel BAIC – die sesde grootste vervaardiger in China en groter as Haval of Chery – ná nege jaar steeds om ’n stewige vastrapplek hier te kry.
Selfs met ’n plaaslike aanleg in Gqeberha (waar die ou-tegnologie- X25- en D20-modelle gemonteer word) is die Fortune 500-maatskappy ver agter Haval en Chery wat plaaslike verkope betref.
Nou lyk dit of BAIC ’n strategiese ommekeer gedoen het, met die X55 as tegnologiese voorloper.
Haval en Chery se huidige goeie verkope plaaslik het heel waarskynlik ’n groot rol in hierdie kopskuif gespeel en die belangrikheid van die Beijing X55 in hierdie strategie kan geensins onderskat word nie.
Futuristiese stilering
Die X55, geskoei op die groep se BMFA-platform wat hy ook vir sy volgende elektriese voertuie (EV’s) wil benut, het ’n futuristiese sportnuts-ontwerp met ’n EV-soort geslote sierrooster en ’n groot, skuins windskerm met versonke ruitveërs en vloeiende flank-kurwes.
Versonke deurhandvatsels (soos jy ook op Jaguar-Land Rover-modelle sal vind) dra verder by tot sy goeie sleursyfer van net 0.32 Cd en agter is die X55 met ’n dun LED-ligstaaf, ’n gesplete drukvlerk en gesplete agterklapdeur afgewerk.
Binne word die avant-garde- gevoel deur ’n minimalistiese ontwerp, sagte materiale, ’n groot raakskerm vir die inligtingstelsel en ’n groot sondak (in die topmodelle) verhoog.
Die inligtingstelsel het ’n eiesoortige uitleg, maar dit vat geduld om aan gewoond te raak en sy werking onder die knie te kry.
Die grootste frustrasie is dat feitlik alle funksies in subspyskaarte van die inligtingstelsel gesoek moet word – en dit verg tyd en moeite.
’n Paar kortpad-knoppe vir die belangrikste funksies sou welkom gewees het.
Ook is daar geen laerug-steunverstelling vir die leersitplekke in die topmodel nie (dit sal blykbaar wel binnekort beskikbaar gestel word) en die inligtingstelsel het geen Android- of IOS-spieëlkonnektiwiteit nie.
Die digitale instrumentpaneel het verskeie uitleg-verstellings, terwyl daar ook ’n rits USB-sokke in die kajuit is.
Nutsfunksies op die X55 sluit in op- en afdraandebeheer, parkeersensors voor en agter en ’n bestuurdersmoegheid-waarskuwing. Die topmodelle kom ook met ’n aansitknop, banddruk-monitor, elektriese sitplekke en ’n groot sondak.
Die reeks bestaan uit drie afwerkingsvlakke, Dynamic, Elite en Premium, en al drie word deur ’n 1,5-liter-turbo (130 kW, 305 Nm) aangedryf.
Die krag gaan met ’n netjiese sewegang-dubbelkoppelratkas (met vier ritmodusse – Eco, Comfort, Sport en Smart) na die voorwiele. Maar hoewel die kleinerige enjin heel lewendig en gewillig is, openbaar dit steeds effense turbotraagheid by die wegtrekslag.
BAIC maak aanspraak op die redelik goeie verbruik van 7 liter, maar ons ervaring was nader aan die 9 liter-merk.
Wat wel beïndruk, is die seepgladde ratwisseling en goeie rygerief oor rowwe, slaggat-gevulde paaie. Daar was wel ’n ligte stuurgevoel wat ’n mens soms laat wonder het.
Waarde vir geld
Wat stilering, kraglewering, tegnologie en konnektiwiteit betref, lui die nuwe X55 ’n nuwe tydvak vir BAIC in.
Wat prys betref, is hy in ’n klas van sy eie en bied ongelooflike waarde vir geld in dié mededingende mark vir klein nutse.
Die X55 ding teen Hyundai se Tucson, die Kia Sportage, Toyota se RAV4 en die Volkswagen Tiguan mee, maar is meer as R150 000 goedkoper.
Ook is hy meer bekostigbaar as die Tiggo 7 en H6 van sy Chinese mededingers Chery en Haval.
Die X55 se pryse sluit ’n vyfjaar-100 000 km-waarborg (met ’n ekstra tweejaar- 40 000 km vir die dryfstelsel) in.
Die enigste vraagtekens is die ongetoetste betroubaarheid van die X55 en die beperkte BAIC-handelaarsnetwerk plaaslik.
Met die X55 het BAIC nou die hoofstroom-mark betree en met sy aantreklike ontwerp, hoë toerustingvlak en gevorderde tegnologie teen hoogs bekostigbare pryse gaan dié ryding die plaaslike sportnutsmark sommer lelik omkrap.


