’n Paarlse ma is geseën met nuwe vreugde in haar lewe nadat tragedie haar ’n paar maande gelede getref het.
Nicolene Tities het verlede week die lewe geskenk aan ’n gesonde en pragtige babaseuntjie. Klein Luke se geboorte kom drie maande nadat Nicolene in Julie haar negejarige seun Marcelino in ’n fratsongeluk aan die dood afgestaan het.
Die leemte ná Marcelino se afsterwe is steeds groot en die familie verlang nog elke dag na hom. Niks en niemand kan sy plek vol staan nie, maar die nuwe lewe van sy broertjie bring ’n glimlag tussen die trane deur.
Die ongeluk wat die negejarige Marcelino se lewe kortgeknip het, het op 8 Julie op die Sneeukop-sitrusplaas gebeur. Die betrokke dag het hy en nog kinders gaan help om vrugte in ’n sleepwa te laai. Marcelino het tussen die bakkie en die waentjie wat gesleep is, gestaan.
Sy oom Jakobus Tities het toe aan Paarl Post vertel: “Die bestuurder kon nie agter hom sien nie en het net gehoor hoe skreeu die kinders. Die man het toe die bakkie gestop en toe laat weet hy eerste die bestuurder van die plaas [wat gebeur het].”
Marcelino het onder die sleepwa beland. Hy het nog vir ’n kort tydjie gelewe, maar het aan sy beserings beswyk nog voordat hy by ’n hospitaal kon uitkom.
Lede van Drakenstein Farmwatch (DFW) was op die ongelukstoneel, asook met die geboorte van baba Luke. Anthea Carlse, DFW se senior bestuursbeampte, het vir Nicolene gehelp tydens die geboorte wat ook op die Sneeukop-plaas plaasgevind het. Carlse het voorheen nog ’n mamma van Groenheuwel gehelp om haar baba in die wêreld te bring.
“Die babaseuntjie is verlede Woensdagaand (5 Oktober) gebore tydens beurtkrag en moeilike omstandighede. Dit was drie maande nadat sy ouer boetie in ’n fratsongeluk op dieselfde plaas oorlede is,” vertel Carlse. Sy was ook op die toneel toe Marcelino gesterf het.
“Ek is dankbaar dat moeder en baba baie gesond is. Die geboorteproses vir die moeder was nie maklik nie. Die gebied het beurtkrag gehad, en ek moes met die hulp van ’n ander vrou se selfoonlig help om die baba uit te kry.”. A Paarl mother has been blessed with new joy in her life after tragedy struck her a few months ago.


