Attie Barnard laat ’n leemte

Attie Barnard, die Wellingtonner wat deur sy selflose liefde en toewyding aan sy dorp groot agting by Wellington se mense afgedwing het, het verlede week, terwyl hy en een van sy vriende met hul fietse op ’n oefenrit deur die Bovlei gery het, aan ’n


Attie Barnard, die Wellingtonner wat deur sy selflose liefde en toewyding aan sy dorp groot agting by Wellington se mense afgedwing het, het verlede week, terwyl hy en een van sy vriende met hul fietse op ’n oefenrit deur die Bovlei gery het, aan ’n hartaanval beswyk.

Barnard is deur sy vrou, Marietjie, beskryf as iemand wat terwille van die waarheid, vreesloos en sonder om doekies om te draai, sy mening gelug nie.

“Dit het hom nie altyd baie gewild gemaak nie, maar op die lang duur moes daar tog maar uiteindelik toegee word dat Attie weereens reg was. Sy onverwagse afsterwe het ons nie alleen met hartseer gevul nie, maar ons ook met ’n baie groot gemis gelaat.”

As suksesvolle oud-polisieman het Attie Barnard ’n leidende rol gespeel in die bestuur van Wellington Stopmisdaad – ’n organisasie waarvan hy en die bestuur in die jongste tyd besig was om misdaad op die dorp daadwerklik hok te slaan.

Ongeveer tien jaar gelede het Barnard na ’n hart-omleiding uit die polisie bedank en met sy eie besigheid te begin, die Wellingtonse rekenaarondermening, Mattelo.

Sy vennoot, Michael van Niekerk, het gesê: “Ek, ons personeel, ons verskaffers en ons klante gaan Attie mis.

“Hy het ons kliënte met absolute vertroue behandel het en hy is selde teleurgestel. Hy het almal in die gemeenskap om hom, maar veral die armstes onder die armes, met groot deernis en empatie behandel. Hy was ’n mens van integriteit en so sal hy altyd onthou word.”

Attie was verlede Woensdagmiddag oudergewoonte saam met een van sy fietsryvriende op ’n oefenrit tussen die plase in die Bovlei. Hy het nougeset ’n gesonde lewenstyl probeer handhaaf:

Op die pad na Bainskloof, knap duskant Sunfield, het hy skielik stilgehou en die voetgespes van die pedale losgemaak. Oomblikke later het hy omgeval en doodstil langs die teerpad bly lê.

Een van die eerste motors wat stilgehou het, was ’n Wellingtonse geneesheer. Hy en sy eggenote het onmiddellik noodbehandeling begin toepas.

Susanne Tecklenburg van die bekende restaurant in die omgewing het ook stilgehou. Sy het die polisie en die Wellingtonse nooddienste geskakel sodat daar binne minute twee ambulanse op die toneel was. Die noodpersoneel kon egter nie daarin slaag om Attie se hart weer aan die klop te kry nie.

Attie word oorleef deur sy vrou, Marietjie, en twee dogters, Eloïse en Atmarie. Die begrafnis was gister (Woensdag 25 Januarie) vanuit die NG Gemeente Wellington-Oos.

* Well-known Wellington businessman and crime fighter Attie Barnard, has suddenly died.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.