ATM trotse deel van Paarl

As ’n gebore Paarliet en ’n toergids wat in historiese toere spesialiseer, is om die storie van die ontstaan van Afrikaans met besoekers te deel vir my die hoogtepunt van enige toer.


As ’n gebore Paarliet en ’n toergids wat in historiese toere spesialiseer, is om die storie van die ontstaan van Afrikaans met besoekers te deel vir my die hoogtepunt van enige toer.

Omdat die taal se geboorte so uniek is en ontstaan het op die tong van my voorouers, maak dit my vandag meer trots om Afrikaans te praat. Dit is deel van my erfenis en my kultuur. Dit vorm deel van my identiteit en hoe ek myself kan uitdruk en my stempel kan afdruk. Internasionale besoekers is versot op ons Bolandse aksent en hoe net ons sekere woorde kan uitspreek.

Die eerste saadjie van Afrikaans is reeds in 1595 gesaai toe die eerste seevaarders taalkontak met die Khoi-groepe gemaak het. Ná die vestiging van die Nederlandse verversingspos aan die Kaap het dié kontak baie meer intensief geraak. Die Khoi moes ’n vorm van Nederlands aanleer vir kommuni­kasie­doeleindes en het dit kleur gegee met woorde uit hul eie moedertaal. Die invloedryke rol wat Khoekhoe-vertalers soos die leier Autshumato en later Krotoa, ook bekend as Eva, in die geskiedenis gespeel het, is alombekend. Die aankoms van die slawe tussen 1658 en die vroeë 1800’s vanuit hul verskillende lande van herkoms het die Hollands wat aan die Kaap gepraat is glad nie meer soos die formele taal van die VOC-amptenare laat klink nie. Die invloed van tale uit Angola, Guinee, Madagaskar, die Indiese kusgebiede, Oos-Indiese Eilande en die Indiese Argipel saam met Portugese aktiwiteite in hierdie gebiede het Kaaps-Afrikaans ontwikkel.

Dr. Arnoldus Pannevis, ’n taalkundige, het reeds in 1866 besef dat hierdie taal ’n taal in eie reg is en het voorgestel dat dit eerder Afrikaans genoem word; ’n taal wat in Afrika ontstaan het. Pannevis wou vir die sprekers van hierdie jong taal die Bybel in Afrikaans vertaal en dit die status van ’n skryftaal gee. So is die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die huis van Gideon Malherbe, wat vandag die Afrikaanse Taalmuseum is, gestig. 100 jaar later het die Afrikaanse Taalmuseum amptelik sy deure vir die publiek geopen.

Gedurende die 19de eeu het die Afrikatale Nguni, Zoeloe, Xhosa en Sotho Afrikaans begin beïnvloed toe die trekboere aan die Oosgrens taalkontak met die inheemse bevolking gemaak het. Hierdie Afrikatale beïnvloed vandag steeds Afrikaans in die moderne konteks en gee meer en meer kleur aan die unieke taal, Afrikaans.

In 1942 het inwoners van Paarl op ’n openbare vergadering besluit om ’n Afrikaanse Taalmonument op te rig en kort daarna is ’n komitee saamgestel om geld in te samel vir die oprigting daarvan. In 1964 is 12 argitekte genader om deel te neem aan ’n kompetisie om die monument te ontwerp. Hul opdrag was om die kulture, akademiese en staatkundige groei van Afrikaans uit te beeld in ’n struktuur wat van ver af sigbaar sou wees. Bouwerk is in 1972 begin. Op 10 Oktober 1975 is die Afrikaanse Taalmonument met ’n seremonie, wat deur meer as 40 000 mense bygewoon is, geopen.

Die Afrikaanse Taalmonument simboliseer die verskillende tale wat oor drie vastelande naamlik Europa, die Ooste en Afrika versprei lê, wat Afrikaans gevorm het en bring die taal in konteks met Afrika.

Net soos die Paarl-rots en die Bergrivier vorm die Afrikaanse Taalmonument deel van wat Paarl uniek maak en verteenwoordig die hele Drakenstein en so ook Suid-Afrika.

You need to be Logged In to leave a comment.