Die Afrikaanse Taal- en Kultuur-vereniging (ATKV) in Wellington het by vanjaar se nasionle prysuitdeling in Mei met twee pryse weggestap.
Tharina Schweidler, die voorsitter van die Wellington-ATKV, is trots op dié prestasie en sê dit is ‘n “regte uitskieter” wat pryse by só geleentheid losslaan.
Die toekennings sluit in die prys vir ‘n tak met ‘n baie hoë vlak funksionaliteit, asook ‘n toekenning vir hul langtafel-projek, wat in Desember 2024in die afdeling “ ’n projek van hoë gehalte met die gemeenskap as fokus” aangebied is.
Volgens Schweidler reël die nasionale ATK-kantoor die prysuitdelingsaand. Dit is op 15 Mei in Goudini gehou.
Sy vertel dat die Wellington-ATKV oor die jare dikwels met ‘n prys of twee wegstap, maar dat die geleentheid elke jaar opgewondenhied onder die bestuur en lede ontlok, en ‘n bewys is dat die lede en bestuur se harde werk vrugte afwerp.
Die Wellington-tak is reeds 25 jaar oud, en het – soos die res van die ATKV-takke oor die land heen – twee afdelings, naamlik die kultuurtak, wat verantwoordelik is vir die bevordering van, onder andere, die Afrikaanse taal, asook gemeenskaps- en jeugprojekte. Die tweede tak is die saketak, wat die kultuurprojekte finansier.
Schweidler, wat reeds 10 jaar die Wellington-ATKV se voorsitter is, glo dié tak behaal sukses omdat dit ‘n gehegte span is wat goed saamwerk. Die tak se bestuur behels tans 11 mense.
“Ons [die Wellington-ATKV] se hart is goed en ons [geldsake] is goed. Ons is soos ‘n ou duikboot – ons beur net vorentoe,” sê Schweidler laggend.
Nóg ‘n aspek wat tot die Wellington- ATKV-tak se sukses bydra, is volgens Schweidler die feit dat die vereniging goeie verhoudinge met ander organisasies sonder winsbejag kweek, soos die Wellington-Lions-klub, die Rapportryers en die Vriende van die Museum in Wellington.
Volgens Schweidler werk die vereniging ook goed saam met die Drakenstein-munisipaliteit.