Hierdie week se Paarl Post het ’n verskeidenheid nuus aangeraak – van voel-goed stories tot harde nuus, vermaak asook die vloedskade wat steeds soos ’n wolk oor die vallei hang.

Ongelukkig is die slegte nuus tans meer as die goeie nuus.

Ons gemoed sak vandeesweek nog verder met ’n donderwolk wat oor ons koppe lê weens die munisipale tariewe wat op 1 Julie styg.

Dit maak ’n mens ook verder mismoedig om te lees van ’n egpaar wie se huis tot niet is nadat dit verspoel het toe die Palmietrivier in die Paarl sy walle oorstroom het.

Dit self is baie hartseer, maar nog erger is dat die bietjie van die egpaar se huis wat oor was, deur skobbejakke in die nasleep van die ramp weggedra word.

Inderwaarheid is die egpaar geskop terwyl hulle gelê het.

Is hierdie ’n voorbeeld van hoe laag sekere gemeenskapslede se menslikheid gedaal het?

’n Mens sou dink in hierdie baie moeilike tye, wanneer letterlik almal gebuk gaan onder ekonomiese swaarkry, misdaad en ’n redelike onsekere toekoms, menswaardigheid eerder sal seëvier en ons na mekaar sal omsien.

En, namate die tye nog erger word, gaan dit juis al wees wat ons kan red – as ons as ’n gemeenskap saamstaan en na mekaar omsien.

You need to be Logged In to leave a comment.