As die wynland ‘bloedland’ word

Die bekroonde joernalis Julian Jansen het sopas sy boeiende boek Moord op Stellenbosch bekend gestel, ’n samestelling van twee dekades van skokverhale wat in die prentjiemooi Boland afgespeel het.

Moord op Stellenbosch deur Julian Jansen, uitgegee deur NB Uitgewers.


Die bekroonde joernalis Julian Jansen het sopas sy boeiende boek Moord op Stellenbosch bekend gestel, ’n samestelling van twee dekades van skokverhale wat in die prentjiemooi Boland afgespeel het.

Dit is werklikwaar ’n kan-nie-neersit- boek vir alle misdaadverhaal-lesers – behalwe dat dit nie op verhale gegrond is nie, maar op die werklikheid,

Hier volg ’n voorsmakie van wat lesers kan verwag:

Stellenbosch staan internasionaal bekend as ’n dorp van weelde en wyn, ’n plek van pragtige natuurskoon en mooi mense. Dit is die tuiste van Suid-Afrika se sake-adel, geleerde professore en studente wat vir groot dinge bestem is.

Maar die idilliese beeld wat in reisbrosjures en op sosiale media voorgehou word, versluier ’n skadukant. Tussen die ou eikebome, blou berge en geskiedkundige wynplase broei dieselfde boosheid wat Suid-Afrika een van die lande met die hoogste moordsyfers in die wêreld maak.

Wanneer Stellenbosch se masker afgeruk word, is dit vir die publiek moeilik om weg te kyk van die gru-gesig wat ontbloot word. Moorde in die dorp kry dikwels buitengewone mediadekking, veral wanneer die slagoffer ’n welgestelde persoon of ’n jong mens in die fleur van hul lewe is, want dit is juis dié moorde wat die kontras tussen Stellenbosch se openbare beeld en die werklikheid die helderste illustreer.

Selfs in ’n land wat vuisvoos en afgestomp is vir misdaad, vind dit wyd weerklank wanneer ’n belowende student se lewe wreed beëindig word nog voordat hulle die kans kon kry om hul potensiaal te verwesenlik. Daarom is name soos Inge Lotz en Hannah Cornelius in die nasionale bewussyn ingeprent.

“In Suid-Afrika lewe ons saam met misdaad, dis soos white noise – jy is altyd bewus daarvan. Daar is ook plekke waar ’n mens dink misdaad nooit sal gebeur nie. Daar is ’n persepsie dat koshuise op kampusse soos Stellenbosch, Potchefstroom en Grahamstad veilig is,” sê Tim du Plessis, hoof van aktualiteit by kykNET en voormalige Rapport-redakteur.

“Dan is daar die element van menslike tragedie as ’n student die slagoffer is. Dan dink jy: Hier is ’n belowende mens wat hulle voorberei het vir ’n blink toekoms, met verwagtinge. Die ouers het dalk swaargekry om die kind op universiteit te kry . . . en dan word die kind in die fleur van hul lewe vermoor.”

Prof. Lizette Rabe, voorsitter van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, sê lesers het ’n “intense aptyt” vir hoëprofielmisdade in Stellenbosch. Sy noem die voorbeeld van die moord op die welgestelde wynboer Stefan Smit. Soos baie van die opspraakwekkende moorde in Stellenbosch het die Smit-saak al die elemente van ’n boeiende misdaadroman. Smit se weduwee, Zurenah, word daarvan verdink dat sy ’n span huurmoordenaars gekry het om haar man te vermoor. Boonop veg Zurenah en Smit se dogters uit sy eerste huwelik oor sy erflating en daar is bewerings oor ’n testament wat voor die moord vervals is.

“Dit klink soos ’n Deon Meyer-storie, maar dis die werklikheid,” sê Rabe. “Die betrokkenes is almal akteurs in die storie, buiten dat dit die werklikheid is. Dis amper verslawend in ’n sekere sin, jy kan nie genoeg kry nie.”

Te midde van die intense fokus op die sensasionele aspekte van die Stellenbosch-moorde word ook groter kwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing belig.

“Wat navorsing wys – en baie mense wil dit nie aanvaar nie – is dat waar jy soos in Suid-Afrika hoë vlakke van werkloosheid en armoede het, loop dit hand aan hand met misdaad, veral eiendomsgerigte misdaad uit desperaatheid, byvoorbeeld diefstal, huisbraak en later rooftogte,” sê dr. Johan Burger, navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies.

Die mediadekking lei ook daartoe dat Suid-Afrika se dikwels gesiglose misdaadstatistieke tasbaarder gemaak word.

“Ons as Suid-Afrikaners leef met hierdie beelde van marteling, van ernstige geweldsmisdade en uiteindelik moord en verkragting en dan word iets in die media gerapporteer, soos die Inge Lotz-geval. Hier is ’n meisie, ’n pragtige blondekop, jonk, op universiteit, ’n mooi toekoms voor haar, op foto’s is sy stralend van geluk. Dan word sy wreed vermoor. Skielik kry hierdie syfers waarmee ons gekonfronteer word, ’n gesig, dié van ’n mooi jong meisie,” sê Burger.

Wanneer die wynland bloedland word, soos in die geval van die De Zalze-moorde waar die jong Henri van Breda sy skatryk gesin met ’n byl uitgewis het, kring die mediadekking dikwels veel wyer as Suid-Afrika uit. “Triple axe murderer Henri van Breda SMILES in court as he awaits sentencing for killing his parents and sister in a gruesome attack – as judge considers showing MERCY despite his horrific crimes,” het die Britse Daily Mail uitasem in een van sy vele opskrifte oor die saak aangekondig.

Maar hierdie boek gaan ook oor Stellenbosch se minder bekende slagoffers, dié wat nie die BBC se nuusbulletins gehaal het nie – en trouens selfs in Suid-Afrika maar afskeep-dekking gekry het. Die arm plaaswerker Felicity Cilliers was ’n vrou van wie die wêreld vergeet het. Haar moord het 11 jaar lank onopgelos gebly, maar daar was een man wat nooit ophou veg het vir geregtigheid nie. Dit het die groot verskil gemaak.

’n Uiteenlopende verskeidenheid slagoffers en moordenaars tree in die blaaie van dié boek na vore. Elke hoofstuk is ’n herinnering dat Stellenbosch, ten spyte van al sy glans en glorie, baie van die oersondes nie kan vryspring nie. Wat hier volg, is 12 verhale van jaloesie, wellus, woede, luiheid en gierigheid.

Die boek word deur NB Uitgewers uitgegee en is in alle gewilde boekwinkels teen R240 beskikbaar.. Een Paarl Post-leser kan ’n eksem­plaar van die boek wen. WhatsApp die antwoord op die volgende vraag na 066 484 3728 teen Dinsdag 19 Oktober: Vir watter Sondagkoerant werk Julian?

You need to be Logged In to leave a comment.