Jy het my eenmaal op jou rug ge-abba. Jou fisieke nabyheid het warmte, liefde en beskerming ingehou.

Een van die mooi dae vier ons weer jou verjaardag. Hierdie keer gaan dit anders wees. Ek is nie seker of daardie dag vir jou enige betekenis sal inhou nie – nie omdat jy dit so verkies nie, maar omdat die verloop van die lewe dit so bepaal.

Ek onthou die vele kere toe jy op my eie spesiale dag vir my die mooiste verjaardagboodskappe sou oordra. Daardie boodskappe sou altyd gevul wees met die versekering van jou daarwees en onvoorwaardelike liefde.

Die laaste keer toe ek jou ná ’n lang tyd weer kon sien, het ek vir ’n oomblik geskok na die prentjie voor my gekyk. Ek wou weer die eens forse, stille en nederige persoon voor my sien en nog ’n keer met jou oor ditjies en datjies gesels, soos wat maar altyd ons gewoonte was. Jy sou my vertel van die koringlande wat weer welig staan daar anderkant Piketberg ná die goeie reën.

Glo my, ek probeer my bes om aan te pas en die skadufiguur van die persoon wat jy eens was, te aanvaar. Ek dink dit gaan darem al ’n klein bietjie beter.

Dit gaan veral beter nadat jy my die laaste keer gesien het, my naam onthou het en daarop aangedring het dat ek vir jou koebaai moet kom sê toe julle gereed was om die rit huis toe aan te pak. Dit het my hart goed gedoen om daardie naweek al jou helder oomblikke te kon beleef. Die dowwe oomblikke was minder, en as dit wel sy verskyning gemaak het, dan het ek probeer verstaan, want jou skadu-vriend het die afgelope tyd sy opwagting gemaak en besluit om te bly.

Dié keer was jou skadu-vriend darem nie so selfsugtig nie en het besluit om jou vir die grootste deel van jou naweek te deel saam met hulle naby aan jou. Daai skadu-vriend het seker gemaak dat hy vir die grootste deel van die naweek nie te naby aan jou kom staan het nie.

Dalk het hy besef dat ons net vir daardie tydjie die persoon wat ons eens geken het, net vir ’n wyle wou ervaar sonder die ontydige onderbrekings. En die kere as die onderbrekings sy versky­ning gemaak het, het ek my al stilletjies ingestel om die verleentheid daaraan gekoppel met waardigheid te verjaag.

Ek sal jou dan maar liefdevol aan die arm neem en ’n entjie gaan stap soos jy versoek het. Dan sal ek maar instem met alles wat die skadu-vriend jou vertel . . . hoe moeilik dit ook al is om te glo. Jy moet my glo as ek sê dat ek dit moeilik vind om die persoon wat eens so vol lewe was, maar nou oral begelei moet word, te aanvaar.

Ek sien jou nie elke dag nie, maar kan my net indink hoe dit vir die persoon naaste aan jou moet wees. My hart wou breek toe ek haar die laaste keer gesien het. Haar gesig het ’n unieke storie vertel. Die moegheid kon sy nie wegsteek of verbloem nie. Ook nie die dankbaarheid om net weer ’n bietjie te kon asemskep nie, want daar was meteens meer hande om die versorgingstaak vir ’n kort tydjie te help verlig. Ek salueer haar elke dag vir haar braafheid om hierdie liefdestaak met oorgawe te verrig. En al is haar eie lewenskragte ook besig om vinnig af te neem, neem sy moedig haar nuutste projek met ywer aan, want, glo sy, ook hierdie einste taak is vir haar uitgesit en sy sal dit tot aan die einde uitvoer. En die kere as ek aan haar dink, dan stuur ek ook my skietgebed na Bo om haar vir daardie spesifieke dag of tyd sterk te maak om haar taak met kalmte, wysheid en liefde deur te voer.

Ek het begin aanvaar dat jou skadu-vriend deel van jou lewe hier op aarde sal wees – tot aan die einde. My belofte aan jou is dat ek tot aan die einde jou menswaardigheid sal respekteer, want jy verdien dit. Ek belowe dat ek minder vrae sal vra en jou sal aanvaar met al jou vrae wat nie vir my of enigiemand naby aan ons enige sin maak nie. En as jy wel weer my naam sal onthou, sal ek nog ’n keer dankbaar en bly wees en vashou aan daardie mooi oomblik in tyd. En as dinge dalk heeltemal gaan uitrafel, het ek daarvoor ook ’n plannetjie beraam, want vir my en ons is dit nodig om nooit te vergeet wie jy eens was nie.

Jy en jou persoon naaste aan jou was en is vir my en ons die somtotaal van wie ons vandag is. Ek is soveel aan jou verskuldig, maar weet terselfdertyd dat jy niks van my terug verwag nie, want jy het gedoen wat enige persoon eie aan jou soort sou doen – om ’n goeie pa te wees vir sy kinders.

Demensie – “My eyes do see, my ears do hear, I am still Me, so let’s be clear, My memory may fade, My walk may slow, I am ME inside, don’t let me go.” (Unknown)

You need to be Logged In to leave a comment.