In ’n kleinerige gemeenskap, soos die Paarl, waar mense daagliks deel is van mekaar se stories en dit min gebeur dat jy regtig buite die sirkel staan, is dit nogal ’n ontnugtering as jy jouself skielik buite daardie sirkel bevind.

Wanneer ’n skandaal die gladde oppervlak breek, spoel die oordeel en blatante destruktiewe skinderstories agter die maskers uit. Die storm is los. Die stories loop. Dit versprei soos ’n veldbrand. Dit kry vlerke. Dit gons. Mense praat met mekaar, sonder om te skroom, maar nie met jou nie.

Mense kies om die rug op jou te draai, om jou op ’n afstand te hou, om jou te etiketteer. Dis ironies, want jy het hulle juis in hierdie moeilike tyd nodig.

Daar is darem diegene wat ondersteun, onderskraag en hulle nie steur aan die sensasionele deel daarvan nie – ’n handvol wat baie kosbaar is.

In alle welaf gemeenskappe is daar mense wat pronk. Hul lewe is onberispelike kunswerke. Hul huwelik is rotsvas, hul kinders uitmuntend, hul skatte is vol en daar is geen knoop in hul sak nie. Vir hulle sê jy: “Issit?” ’n Lewe sonder foute.

Omdat hulle glo dat hulle die morele hoëgrond bewandel, eien hulle vir hulself die reg om vingers te wys na hul medemens wat, anders as hulle, gebroke is. Die realiteit is egter dat iets soos ’n perfekte lewe en perfekte mense nie bestaan nie, maar mense bêre hierdie realisme veilig weg in hul onderbewussyn, want dis mos nie nou nodig om té veel op hul eie tekortkominge te fokus nie.

Ek sê weer – dis ’n ontnugtering as die storm losbars en jou private lewe aan die groot klok gehang word.

Dis nóg erger as jy besef dat die waarheid sensasioneel verdraai word – dalk om die storie goed spoed te gee, of diegene betrokke nog ’n bietjie platter te trek – te skop terwyl hulle lê.

My vrou het ’n affair gehad!

Daar is slegs twee dinge wat ná so ’n gebeurtenis kan gebeur: Jy BLY of jy GLY. Sonder om te veel op die seer en trauma te fokus, wat direk ná die skoknuus volg, is dit nie noodwendig ’n eenvoudige besluit nie. Nie een van die twee uitvloeisels is maklik nie. Dis ook nie ’n eensydige besluit nie, al dink mense slegs een persoon beskik oor daardie keuse.

In ons geval het ons saam gekies om te bly. Repair after affair . . . Dis ’n regte kursus, geskryf vir getroudes, wat deur die nagevolge van ’n buite-egtelike verhouding moet werk. Daarmee gesê is niks in die lewe gewaarborg nie. Ons is nie gewaarborg dat ons huwelik wel ’n gelukkige einde gaan hê nie, maar ons het die keuse om te probeer. Is dit die regte besluit? Hieroor sal baie sekerlik ’n mening hê, maar vir nou voel dit reg.

As mens is jy strenger met jouself as wat enigiemand ooit kan wees. Jy praat hard met jouself en moet baie verwerk. Jy moet op ’n plek kom waar jy jouself kan vergewe. Dit op sigself is ’n moeilike pad, maar dis jou pad.

Die stories is gevul met sensasie. Dis asof mense hulle verlekker in die seer van ander. Hulle luister en gesels en fel ’n oordeel.

Dis maklik, want dit gaan nie nou oor hulle nie. Mense wat skinder, voel nie hulle doen iets op daardie oomblik verkeerd nie, maar hulle is onverskrokke.

Ons is eintlik klein vissies in ’n groot dam en hoegenaamd nie bekende ikoon-figure nie. Hoekom sal dit jou dan pla wat die mense dink? Dis ’n kort antwoord: Want dis jóú mense. Dis mense in jou dorp, vir wie jy omgee, liefhet en saam met wie jy aan jou lewenstorie skryf.

In elke skinderstorie is ’n stuk oordeel ingebou en is dit ongelooflik hoe mense hulself aangestel het om regter te speel oor ander se lewe.

Die gesegde lui: “Mense wat in glashuise woon, moenie klippe gooi nie.” Ek gebruik baie dié beeld, soms as ek met my kinders gesels, en ek noem dat jy nie kan oordeel as jy nog nie in ’n ander mens se skoene geloop het nie.

Die moeilikste, ná dese, is seker dat mense se ondersteuning, bystand en vriendskap kwyn. Ek praat nie van die handjievol mense wat wel daar is nie – vir hulle is ek dankbaar. Die meeste mense hou hul afstand, amper asof jy iets direk teen hulle gesondig het. In teenstelling hiermee sou ek dink mense moet eerder hul ondersteuning bied. Dalk wil hulle nie saam met jou gesien word nie, of dalk is hulle bang dat jy hulle gaan deel maak van jou drama.

Niemand is onaantasbaar vir pyn nie. Hoewel ek alle mense guns en goedheid op hul lewensreis toewens, weet ek ook dat slegte goed met goeie mense gebeur. Dis onvermydelik. Dis die randomness van die lewe.

Die vraag is eerder: “Noudat dit gebeur het, wat gaan ek daaraan doen?”

Almal het groenkoring op hul lande. Ons kan nie in die toekoms insien nie. Moet nooit dink of sê dat iets nie met jou sal gebeur nie.

Wat ek nou, meer as ooit tevore, in my eie lewe wil toepas, is om dáár te wees vir my vrou en my gesin.

Ek het steeds die verantwoordelikheid om haar steunpilaar te wees, maak nie saak wat nie. Selfs al werk dinge uiteindelik nie uit nie.

Daar is genadelose mense daar buite, maar gelukkig is daar ook omgeemense, mense wat perspektief behou, luister sonder om te oordeel en sommer net onvoorwaardelik jou vriend of vriendin wil wees.

Wys deernis. Wees dáár. Bid.

You need to be Logged In to leave a comment.