“Ek verkoop kerke,” sê die man. “Ek werk vir die Vatikaan.”
Gelukkig nie siele nie, dink ek dadelik toe ek dit lees. Besef toe hartseer dat ons nie ’n raadgewer daarvoor nodig het nie – ons doen dit sommer self. Spotgoedkoop verkwansel ons ons karakter aan sosiale media, hoor-sê-uitlatings en peperduur medikasies met leë beloftes en menige newe-effekte, om maar ’n paar te noem.
Na bewering het Nederland te veel kerke en al minder belangstelling, en word dit verkoop teen een Euro per kerk. Instandhouding, regulasies en nogmaals protokol laat die mark stilstaan.
Ek vermoed Amerika sal die volgende konsultante vir die verkoop van kerke aanstel. Ek lees “Kerke sluit by die honderde in Amerika en die Christelike stem word skaamteloos gesmoor en met die woke-ideologie vervang”.
Bogenoemde laat my nadink. Wat sal die gedagte wees van dié wat hul laaste geld gebruik om ’n taxi te betaal om ’n kerkdiens by te woon, om die gemeensaamheid van eensgesindheid te ervaar, om moed te skep vir die week wat meedoënloos wag, maar dan voor geslote deure te staan kom; dié wat inspirasie vind uit die Woord en leer om mekaar se laste te dra; die geringste wat hul laaste bietjie deel; wat brood breek met geëelte hande; bewend uit die beker drink? Wat word van die weerloses, die gekwestes en dié wat self hul trane moet afvee; wat woordeloos ween? Waar woon liefde dat dit selde gevind word? Geld – die bron van onopregte liefde, die vals glinster van rykdom, die put van vergifte water en die desperaatheid van die bejaarde!
Hoe wreed is die mens se onkunde, ondeurdagte besluite en die afdwing van maatreëls waarvan die uitkoms dié dien waarvoor dit nie tersaaklik is nie. Dit is soos die angsgeroep van die getraumatiseerde mens wat almal kan hoor, maar net deur sensitiewes verstaan word.
Shimon Peres het eenkeer by die Wêreld- ekonomiese forum in Davos gesê: “The optimist and the pessimist both die in the end, but each lives his life in a completely different way.” Die digter sê: “He passed through life/He did not live it.” Verder sê Coelho: “We are all different, and should do what we can to remain so.” Lord Salisbury beweer die volgende: “If you believe the doctors, nothing is wholesome: If you believe the theologians, nothing is innocent: If you believe the soldiers, nothing is safe”. ’n Pelgrim is op ’n pelgrimstog saam met sy gids. ’n Staptog van ses en ’n half uur word ’n staptog van sewe dae. Grimmig vra die pelgrim hoekom hulle so lank gestap het en die gids antwoord dat dit nie sy plig is om op te let na die pad nie, maar die pelgrim vir wie die pad onbekend is.
Uit bogenoemde kom ek agter dat dit nie saak maak wat jou standpunt oor die lewe is nie – ons gaan almal die lewe verlaat. Wat dit wel vir my bevestig, is dat jy kan kies hoe jy hierdie lewe wil lei. Eerstens moet jy dit beleef. Jy moet jou in jou lewensdae verlustig met integriteit, en dan moet jy alles wat jy aanhoor, maar met ’n knippie sout neem. Jou uniekheid is jou kroon. Baan jou weg met elegansie, maar maak seker dat jy skerpsinnig is oor waarheen jy op pad is, en nie net vandag ryk is aan vreugde en môre arm aan goud nie.
’n Kerk is ’n toevlugsoord; die hoeksteen van ’n dorp. Pelgrims kon so soms oornagplekke vind. In ’n kerk verwag jy liefde – liefde van God en liefde van jou medemens. As jy dalk verdwaal het of moontlik geestelik verlore geraak het, is die kerk die plek waar jy weet jy weer jou rigting sal vind. Kerke is die arms van ’n moeder; dit bemoedig jou hart. Kerke laat jou beskut voel en laat die angstigheid verdwyn. Dis waar jy Kersfees huldig vir sy ware betekenis en waar gewone mense met waardering Paasfees vier en vreemdes vriende word.
Hoe help die Unesco-toekenning die lied “Stille Nag” as daar nie meer ’n kerk gaan wees waar mense dit sal kan sing nie? “Stille Nag” sal dalk eendag onthou word deur enkeles vir die rol van welwillendheid wat dit in 1914 in die Eerste Wêreldoorlog gespeel het toe soldate op Oukersaand (nadat hulle “Stille Nag” in die verte gehoor het) spontaan opgestaan het uit hul loopgrawe en “vyande” mekaar omhels en geskenke van broodkorsies en water gegee het; gepraat het oor hul families en saam gehuil het.
Die belangrikheid van kerke is verreikend meer as net geloof – dit is ’n integrale deel van die geestelike, sosiale en kulturele bestaan van gemeenskappe wêreldwyd.
Sal daar dan eendag ’n “Te koop”- bordjie voor die Nortre Dame in Parys ook wees? Of is dit reeds verkoop aan die horende doof en sienende blind?

