Arboretum weer in die kollig na tienermeisies met skerp voorwerp gedreig is

Die beveiliging van die Paarl-arboretum haal nogmaals die nuus nadat twee tienermeisies deur ’n gewapende man voorgekeer is. Dit laat talle wonder oor die Drakenstein-munisipaliteit se sogenaamde bewaking van die gebied.


Die beveiliging van die Paarl-arboretum haal nogmaals die nuus nadat twee tienermeisies deur ’n gewapende man voorgekeer is. Dit laat talle wonder oor die Drakenstein-munisipaliteit se sogenaamde bewaking van die gebied.

Die man, glo ’n gereelde oortreder, is vasgetrek nadat hy ’n matrikulant en haar 17-jarige vriendin Maandagmiddag met ’n skerp voorwerp gedreig en ’n selfoon gesteel het.

Die matrikulant se broer sê die meisies het tussen 16:00 en 16:30 vir hul daaglikse drafsessie gegaan toe die verdagte hulle naby Arboretumlaan op ’n stil draai van die parkrun-roete genader het.

“Die verdagte het hulle met ’n skerp voorwerp gedreig en aangedring dat my suster haar iPhone en ’n sakkie met bankkaarte en motorsleutels oorhandig.

“Gelukkig het hy nie haar vriendin se foon gesien nie en sy kon die voorval aanmeld, waarna ek hulle te hulp gesnel het.”

Op die toneel het die broer van die Find my Phone-funksie gebruik gemaak in ’n poging om sy suster se selfoon op te spoor.

“Die verdagte het met die foon in sy besit tot naby die Jan van Riebeeck-rylaan-ingang van die Arboretum gevorder. Ek en ’n vriend, wat my bygestaan het, tesame met Wolf Security, het die verdagte in die groot oop veld in die bosse naby die Nuwe Rust-gastehuis vasgetrek. Hy het in die gras weggekruip. Ek vermoed hy het nie besef ons was in staat om die foon se ligging te bepaal nie.”

Die broer beweer dat die verdagte, wat volgens die Wolf-veiligheidswag ’n voormalige oortreder is, gereeld van wegsteekplekke in die Arboretum gebruik maak.

“Toe ons die ander besittings van die verdagte wou terughê, het hy reeds my sussie se sakkie iewers weggesteek. Ons het hom gevra om die besittings uit te wys. Dit het gelyk asof hy gereelde wegsteekplekke gebruik, wat lyk soos groewe wat tussen die bosse gegrawe is.”

Hy het ook opgelet dat daar talle gate in die Arboretum se omheinings is, wat ontsnappings­roetes en toegang aan misdadigers wat wil wegkruip, of selfs haweloses, bied.

Die verdagte is met die hulp van Wolf Security aan owerhede oorhandig en ’n klagte van roof is by die Paarl-polisie aangemeld.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het die voorval bevestig en gesê die verdagte het Woensdag in die landdroshof in Paarl op aanklag van roof verskyn.

Die uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, verseker die Bobbies on the Beat– program is van 1 November in werking. “Die beamptes in blou werk agt ure per dag van 10:00 tot 19:00.”

Hy beklemtoon die wetstoepassers se fokus behels nie net die arboretum nie, maar ook die toepassing van alle munisipale ordonnansies van Saron tot in Simondium.

Hy sê hulle betreur die feit dat “booswigte rus en orde versteur”.

“Ons vra egter dat besoekers die arboretum in groepe moet besoek. ’n Duidelike patroon is tussen 16:00 en 19:00 te sien wanneer fiksheidsbewustes die arboretum gebruik.”

Intussen hinder die algemene toestand van die Arboretum, Paarl se natuurliefhebbers. Paarl Post ontvang gereeld klagtes hieroor.

Met ’n finansiële inspuiting van R7,1 miljoen deur die Stad Neumarkt in Duitsland vir die “Climate Smart River Park”, wat by die Arboretum gevestig is, het die publiek verwag die bomepark sal beter versorg wees.

Buiten konstante kabeldiefstal in die park, asook die huidige stroop van die grensdraad, is dit ook steeds ’n tuiste vir haweloses wat van laatmiddag tot vroegoggend hier skuil.

Die watertoevoer na die ablusiefasiliteite is al langer as ’n maand af weens die verouderde asbespype. Die munisipaliteit is nog besig om ’n kontrakteur aan te stel om die pype te herstel.

Esau sê egter die omheining in die park word gereeld vervang en herstel. “Dit kan nie gekwantifiseer word nie want so vinnig soos ons die draad vervang en herstel, word dit weer gevandaliseer. Daar is reeds ’n kameranetwerk wat in die komende boekjaar uitgebrei gaan word. Mense kan ook die beheerkamer by 021 807 8508 skakel om mense wat verdag lyk aan te meld.”

You need to be Logged In to leave a comment.