Verskeie Paarliete, buurtwaglede en ander gemeenskapsorganisasies het verlede naweek saam met Ian Cameron, parlementêre kandidaat van die DA, Paarl se Arboretum skoongemaak in ’n poging om die gebied meer gebruikersvriendelik agter te laat.
Paarl Post het al verskeie kere berig oor die arboretum, wat jaar ná jaar meer onveilig raak, en die Drakenstein-munisipaliteit se gebrek aan misdaadbekamping in dié park.
Volgens Cameron sou die inisiatief in samewerking met munisipale wetstoepassers plaasvind, maar nadat die munisipaliteit gekanselleer het, het amper 50 gemeenskapslede steedds in die donker opgedaag.
Cameron het verduidelik dat daar wesenlike skade aan heinings is, verskeie ligte se bedrading gesteel is, hier en daar graffiti voorkom en ’n hoop gebruikte kondome opgetel is.
Volgens hom is daar ook manlike prostitute in die park wat onder die Paarl-polisie se aandag gebring is.
“Dit [die Paarl Arboretum] is besig om ’n baie slegte omgewing te raak,” volgens Cameron.
“Dit word baie gebruik – dit is een van die min plekke waar kinders nog vrylik kan rondbeweeg.”
Dit is om dié rede, maan Cameron, dat meer gedoen moet word om die Arboretum te beveilig.
Volgens vorige kommunikasie nadat ’n bejaarde man onlangs tydens sy oggend-wandeling in die Arboretum baie erg aangerand is, het die Drakenstein-munisipaliteit eenvoudig gesê die onus om die Arboretum te beveilig, rus nie op die munisipaliteit nie, maar eerder op die plaaslike polisie.
Volgens Cameron stem hy nie met dié sentiment saam nie.
“Die munisipaliteit, buurtwagte, polisie en ander gemeenskapsorganisasies moet saam [daaraan] werk.”
Die beveiliging van die Arboretum behoort maklik te wees indien almal saam daaraan werk, het Cameron bygevoeg.
“Die [Drakenstein-] munisipaliteit moet die munisipale eiendom beskerm. Hulle moet onmiddellik reageer, en die vandalisme regmaak.”
Volgens Cameron is gedeeltes van die heining wat die Arboretum toespan, gesteel en word dit reeds die afgelope paar maande by die munisipaliteit aangemeld, maar steeds nie reggemaak nie.
“Ek kry ’n positiewe gevoel, maar daar is baie meer wat ons [die gemeenskap] saam kan doen.”
Volgens Eda Barnard, waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, is Paarl se Arboretum een van die Drakenstein-munisipaliteit se “prioriteitsareas wat daagliks deur ons munisipale wetstoepassers gepatrolleer word”.
“Die hekke by Arboretumlaan word gesluit, maar die publiek verkry toegang deur plase en riviere, asook deur ’n heining wat deur die onlangse storm beskadig is.”
Barnard voer aan dat die slotte wat aan die hekke aangebring word, gereeld gesteel word.
“Die munisipaliteit sal die beskadigde heining herstel sodra die versekeringseis in dié verband afgehandel is.”
Volgens haar sal die “Green Rangers”, wat in die Paarlberg-natuurreservaat ontplooi is, ook binnekort in die Arboretum aangewend word.