Misdaad in die Drakenstein-vallei is gereeld aan die styg, veral in sakekerns, wat ’n teiken vir rowers geword het.
Wellington is een van dié dorpe wat gereeld onder misdaad deurloop, maar met die hulp van Eva Julies, wat ver stap, word dié statistieke nou hokgeslaan.
Julies is ’n Wellingtonner in murg en been met meer as 18 jaar ondervinding as onderskeidelik ’n polisiereservis by onder meer die Wellington-polisie, asook ’n Community in Blue (CIB)- en buurtwaglid, en tans ’n patrolleerder wat onder die vaandel van die Wellington-belastingbetalersvereniging asook die CIB in Wellington werk.
Julies is gewoond aan vrywillige werk en het in haar 18 jaar as polisiereservis voordat sy afgetree het, haar dienste gratis aangebied, en so ook met haar huidige posisie as patrolleerder vir beide die CIB asook die Wellington-belastingbetalersvereniging, wat sy reeds omtrent twee jaar behartig.
“Ek doen dit, want ek wil terugploeg in my gemeenskap,” het sy aan Paarl Post gesê.
Die strate wat tussen een en twee keer per week van 08:00 tot 16:00 te voet gepatrolleer word, sluit in Kerk- en Hoofstraat, waar Julies op die uitkyk sal wees vir onder meer gebarste pype of dreine wat oorloop, asook mense wat gewapen is met messe of ander toestelle, en ’n gevaar vir ondernemings in die sakekern inhou.
Daarmee saam is sy ook op die uitkyk vir mense wat dwelms verkoop.
Sy het verduidelik dat hierdie soort voorvalle beide by die belastingbetalersvereniging asook die Wellington-polisie aangemeld word in die hoop dat meer patrollering in een van Wellington se brandpunte misdaad sal bekamp.
Volgens Julies het haar jare as polisiereservis haar goed toegerus om hierdie werk te kan doen en het sy nie ’n bang haar op haar kop nie.
“Almal ken my al,” het Julies gesê, en verwys na onder meer die eienaars van sakeondernemings, asook haweloses.
Die tendense wat sy meestal in Kerk- en Hoofstraat teekom sluit in die verkoop van dagga, Mandrax en tik, asook alkoholmisbruik onder haweloses en geweld wat daarmee gepaard gaan.
Aan “antie Julies”, soos sy onder die paar mense in die twee strate bekendstaan, is daar geen einde nie.