Anita Lloyd, ’n Paarliet en die huweliks­maat van die voormalige KWV-hoof Boyce Lloyd, het behoorlik ’n opskudding in die media veroorsaak toe die gewilde TV-reeks The Real Housewives van die Wynlande op die kassie was.

In verskeie artikels is oor haar “omstrede verskynings”, “vuil bek” en “ongedissiplineerde gedrag” berig. Verder pronk artikels met Anita se spoggerige huis in Pearl Valley, waar sy tussen mense bly “wat dinge laat gebeur”, en haar droomklerekas vol ontwerpersuitrustings en unieke stukke, maar is dit wat Anita werklik is – net glitz en glam; geld en grimering? Of kyk die media verby ’n outentieke juweel wat weet wie sy is en nie bang is om dit ten volle uit te leef nie?

Wie is Anita, volgens Anita?

“Weet jy, ek het lankal gewag vir iemand om verby hierdie goed te kyk,” vertel Anita op haar rusbank terwyl die vuurtjie, wat sy self gemaak het, agter ons knetter. “Ek is nie ’n dom dollie nie. Hierdie (sy wys na haar huis) en die groot diamante is ’n gawe; ’n seën van Bo.”

Haar geld is nie wie sy is nie.

Sy beskryf haarself as ’n intelligente wese wat sinvolle gesprekke kan voer.

“Mense is altyd so verstom en dan vra hulle ‘hoe weet jy dit?’ Dan sê ek ek het dit in ’n boek gelees!”

Anita se studeerkamer pronk met boekrakke vol leesstof – veral geskiedenisboeke. “My gunstelingplek in my huis is my kamer. Ek sal daar voor die vuurtjie vir ure lê en lees.”

Sy beskryf haarself ook as ’n platjie “vol humor!”

“My nabye vriende en familie sal vir jou sê ek is hilariously funny, maar sy is tog streng met mense wat hulle nie by ordentlikheid en reëls hou nie.

“Regverdigheid is vir my belangrik. Ek haat dit as mense nie almal op dieselfde manier hanteer nie.”

Anita is ook glad nie pretensieus nie. “Ek suffer nie fools nie,”,sê sy, en voeg by sy is nie bang om haar sê te sê nie. Sy haat pretensie en daarom was sy tydens die verfilming so gefrustreerd weens die mede-housewives. Dit is ook hierdie eienskappe wat die hart van kykers vasgevang het. Oor die kykers sê sy: “Hulle is die beste!”

In die moeilike tye waarin kommentaar in die media diep klowe probeer sny het, het “haar kykers” vir haar opgestaan. “Hulle het sommer gesê: ‘nee, man; jy het die kat aan die stert beet. Anita het dit nie só gesê of só bedoel nie’ en hulle het deur die nonsens wat die media kwytgeraak het, gekyk.” Dít het haar deur “sewe maande van hel” gedra.

“Elke dag moes ek wonder wat vandag oor my gesê is.”

Van die bewerings wat in die media gemaak is, is vir haar onvergeetlik. “Weet jy, hulle het nie één keer in daardie dominee wat glo sy vrou vermoor het, se karakter ingeklim soos hulle in my karakter ingeklim het nie.”

Die manier waarop sy gekarakteriseer is en die opspraak wat in die media gemaak is, was vir haar en Boyce ’n uiters moeilike tyd – veral toe sy betrokkenheid by KWV aan haar “omstrede” verskyning op die kassie gekoppel is.

“Dit was ontsettend moeilike en hartseer tye. Nie ek of Boyce het genoegsame woorde om te beskryf hoe seer dit was nie.”

Sy sê dit het byna soos “freaky Friday” gevoel het.

“Boyce het nog altyd gesê: ‘As ek 55 is, tree ek af’.” Die paartjie was al gereed om hul aftrede te geniet toe Boyce deur die KWV genader is. Hulle het hul lewe verander en hulle in die Wynlande kom vestig om sy rol by die KWV moontlik te maak. “En hy is nog betrokke, hoor! Waar hy altyd sewe dae per week gewerk het, werk hy nou net drie, maar hy . . . is steeds betrokke.”

Toe ek uitvra oor hoe die paartjie die uitdagings oorkom het, vertel sy “ons is lid van die Strooidak­gemeente in die Paarl by dominee Fanie, en hy is ons hero.” Ds. Fanie het saam met die Lloyd-paartjie “ ’n pad gestap en dinge in perspektief geplaas”.

“Hy het vir ons gesê ‘Anita, as jy nie dink jou man is f*****g hot nie, dan is daar groot fout! En as jy nie dink jou huis, die een wat julle saam gebou het en hard voor geswoeg het, is next level nie, dan moet ons almal ons koppe onder die grond gaan grawe’.”

Sy en Boyce is al 40 jaar saam en het ontmoet toe sy 13 was. Toe ek haar oor hul geheim uitvra, sê sy: “Die ou mense het gesê ‘egskeiding nooit, maar moord elke dag’ ” en glimlag. Sy vertel dat sy en Boyce mekaar toelaat om elk ’n eie identiteit te hê.

“Toe ek vir Boyce sê ek wil vir twee maande Londen toe gaan, het hy gesê ek moet gaan en hy het planne gemaak om vir my te kom kuier.”

Toe ek haar oor dié mooi gebaar uitvra, sê sy “hy is my one in polony” en glimlag. Dit wys ook in die moeite wat die paartjie doen om ten spyte van hul vol program saam te wees. Hulle gun ook vir mekaar geleenthede.

Anita spog vreeslik met haar man en vertel entoesiasties dat hy ’n Protea-visvanger is “soos wat ’n mens nou Springbokrugbyspelers kry”.

“Hy is nou op reis om vis te vang – sommer net vir die lekkerte.”

Ná Boyce se aftrede wil dié paartjie die wêreld platreis. “En dan moet ons die final call maak: Wil ons in Suid-Afrika bly of wil ons oorsee gaan.”

Sou die paartjie besluit om hulle in die buiteland te vestig, sou daar volgens Anita net twee plekke wees waarheen hulle sou verhuis: “Londen of Boca Raton net buitekant Miami.”

Ten spyte van haar humor en sterk persoonlikheid het Anita ook al baie seer in haar lewe ervaar. Twee van die belangrikste gebeurtenisse waaroor sy oopmaak, is die verlies van haar ouers en haar reise na moederskap.

“Ouers het die grootste invloed op ’n mens se lewe . . . ’n kind se persoonlikheid word in die eerste sewe jaar gevorm, en daardie sewe jaar was ek by my ma en pa. En dit was amazing!” Ná haar ouers se dood het sy by haar pleegouers gaan bly en sy is vandag steeds na aan hulle. “Dit was moeilik en seer, maar vanuit hierdie trauma het daar ook baie positiewe dinge gekom.”

Die grondslag wat sy by haar ouers vasgelê het, het haar gehelp om altyd na groter hoogtes te streef. “Dit het my sterker gemaak – akademies, op universiteit, sosiaal en by die kerk. Ek het besef hier is nie tyd vir onsin in die lewe nie; ek moet die beste wees van wat ek kan wees.”

Anita koester ook ’n noue band met haar sussies – nog ’n silwer randjie wat volgens haar uit die trauma van haar ouers se dood spruit.

Haar swangerskapsreis het Anita ook sterker gemaak. “Dit was verskriklik moeilik. Ons was so vyf of ses jaar getroud toe ons besluit het dit is nou tyd vir babas. Ons het gesukkel, sukkel, sukkel en toe ek uiteindelik swanger raak, het ek gevoel dinge is nie reg en ons moes dit toe stop.” Die paartjie het twee keer daarna vrugbaarheidsbehandeling ontvang en toe besef “oukei, die Here wil hê ons moet ’n ander pad volg; Hy gaan ons seën as ons ons probleme aan hom oorlaat.”

Wat dit vir Anita makliker gemaak het, was dat Boyce deur die moeilike reis “heeltyd aan [haar] sy was” en sy aan syne. Vandag is Anita tóg ’n ma vir haar sibbe se kinders, vir haar katte Grommie en Minnie Muis en vir haar getroue ondersteuners vir wie sy as inspirasie dien, want op haar Instagram deel sy dat “Anita Lloyd ook op haar gesig kan val – die real goed.” Dít is vir haar ook die “sweetste revenge” vir die “vieslike goed” wat oor haar in die media geskryf is.

Haar deelname in die reeks het vir haar verskeie deure oopgemaak wat deesdae vir ’n propvol program sorg. Anita is ook benoem as ’n kandidaat vir die Silwerskermtoekenning vir Persoonlikheid van die Jaar – en dít is sy gewis.

Anita Lloyd is uiteraard hilariously funny, maar tog liefdevol, oop, eerlik, en laastens, ’n f****n sterk vrou.

You need to be Logged In to leave a comment.