Die Paarliet Anika le Roux reis binnekort saam met die avonturier Riaan Manser na Antarktika.
Anika het verlede jaar aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer en sien sonder twyfel uit na die week lange avontuur in die koue.
Manser het die projek in 2020 van stapel gestuur en in 2021 die eerste groep jongmense saam met hom na die ysige vasteland geneem.
Vanjaar is die tweede keer dat hy met ’n groep matrikulante, wat die vorige jaar gematrikuleer het, reis.
Delecia Davids, ’n dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), en Nick Hamman, ’n 5FM-omproeper, gaan saam.
Die projek is ’n opvoedkundige avontuur en fokus op die natuur en omgewing. Dit kyk ook na watter positiewe impak die jongmense op die natuur, en selfs Antarktika, deur hul verbruikerskeuses by die huis kan hê.
Die 18-jarige moes self ’n projek van haar eie as deel van die inskrywing voorlê. “My projek is om ou glashouers by skole in die Paarl te versamel en die houers dan na plaaslike sopkombuise te neem, want hulle kry baie produkte en kos.” Die idee is dat die glashouers help met die herverpakking en berging van produkte en kos wat die sopkombuise gebruik. Die herwinning van die glashouers is ook ’n groot pluspunt vir die omgewing.
Volgens Le Roux het die reis na Antarktika eers haar aandag getrek. Sy was later ook meer geïnteresseerd in die mense agter die projek. “Ek is baie opgewonde [oor die reis], selfs oor die eksperimente wat ons gaan doen.”
Le Roux sê die top-10 jongmense wat vir die avontuur ingeskryf het, het verlede week saam gaan kampeer.
Die name van die vyf wat saam met Manser Antarktika toe sal reis, is teen die einde van die kamp aangekondig.
Wanneer Le Roux terugkeer, sal sy as ’n eerstejaarstudent in geesteswetenskap aan die US begin studeer. Vir eers berei sy haarself op Antarktika voor voordat hulle op 10 Februarie vertrek.
*Paarlite Anika le Roux is one of five matriculants chosen to travel to Antarctica with adventurer Riaan Manser.


