Angs- en Depressie-ondersteuningsgroep gee hoop

Die Wellingtonse Angs- en Depressie-ondersteuningsgroep het sedert sy stigting ’n raps meer as vyf jaar gelede gegroei tot ’n ondersteuningsgroep wat ’n uiters belangrike rol in die lewens van talle van die dorp se mense speel.


Die Wellingtonse Angs- en Depressie-ondersteuningsgroep het sedert sy stigting ’n raps meer as vyf jaar gelede gegroei tot ’n ondersteuningsgroep wat ’n uiters belangrike rol in die lewens van talle van die dorp se mense speel.

“Nie net van Wellington nie,” sê Petro Greeff wat die organisasie vyf jaar gelede op Wellington gestig het. “Ons maandelikse byeenkomste word bygewoon deur mense van feitlik alle omliggende dorpe. By ons volgende byeenkoms, wat op 20 April plaasvind, sal daar byvoorbeeld ’n groep wees wat spesiaal van Malmesbury kom vir die aand.”

Op die byeenkoms van 20 April sal gaste toegespreek word deur die bekende sielkundige van die Paarl, dr. S.T. Potgieter. Omdat daar so baie mense is wat na hom wil kom luister, word die byeenkoms verskuif na die Martha-saal om almal te akkommodeer. Dr. Potgieter sal ook by die geleentheid sy jongste boek, Sirkel van die Noodlot, bekendstel.

Volgens Petro Greeff droom sy al vir die afgelope twintig jaar van so ’n ondersteuningsgroep hier op Wellington. Sy het by ander, soortgelyke organisasies gaan kers opsteek en ’n raps meer as vyf jaar gelede met die hulp van dr. Fanie Marais en die NG-moedergemeente op Wellington die plaaslike ondersteuningsgroep gestig.

“Ons het van die begin af sterk gegroei. Hoewel die organisasie gekoppel is aan die moedergemeente, word ons ondersteun deur mense uit ’n groot verskeidenheid van denominasies. Dit is werklik ’n ondersteuningsgroep sonder grense.”

Die groep bied nie net ondersteuning aan depressielyers nie, maar, volgens Greeff, speel dit ’n belangrike rol om mense bewus te maak van die siekte. Die werksaamhede van die groep word ruim ondersteun deur plaaslike sakemanne en alle sprekers wat die groep kom toespreek doen dit gratis. Meer besonderhede oor die byeenkoms op 20 April kan by Petro Greeff by 072 709 8000 verkry word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.