Amore Bekker (58) het onlangs die Breytenbach-sentrum in Wellington besoek vir die bekendstelling van haar nuwe boek, Ek het ’n Engel gesien.
Dié aand, wat gereël is deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Wellington-tak, het vermaak aangebied toe Bekker, ’n oud-RSG radio-omroeper, die gehoor vermaak het met haar “Griekse tragedie” in die eerste helfte, en ’n boekbespreking in die tweede helfte.
Die aand het begin toe Bekker die gehoor se verbeelding ingekleur het met haar storie oor haar besoek aan Rodos, ’n eiland in Griekeland, en hoe sy haar geloof in God gedurende dié onstuimige tydperk verdiep het.
Sy het die gehoor vertel van haar vakansie in Rodos in 1993 op 28-jarige ouderdom waar sy halsoorkop verlief geraak het op ’n Griek, en haar lewe in Suid-Afrika opgepak het om met die liefde van haar lewe te gaan trou en na Griekeland te verhuis.
Oornag, in Griekeland, het sy egter haar “vreugde verloor” en teruggekeer na Suid-Afrika om dit weer te vind.
Intussen het sy haar verlowing verbreek, en in die proses om haar “vreugde” te vind het sy ook haar geloof in God verdiep en besef “Hy was die heeltyd daar by my”.
Dekades ná hiérdie avontuurlustige reis, en ná baie jare in die radio-bedryf, onder meer by RSG waar sy die aanbieder van die gewilde program Tjailatyd was, het sy uiteindelik haar bedanking ingedien en besluit om ’n boek te skyf.
Ek het ’n Engel gesien is Bekker se vyfde publikasie en bevat 72 stories van mense wat beweer het dat hulle ’n engel gesien het en hoe dié positiewe verskynsel hul lewe verander het.
Volgens Bekker het sy reeds gedurende haar tyd by RSG begin om na mense se “engel-stories” op die lug te luister en te vertel, en nadat sy bedank het vir haar Facebook-volgelinge gevra om nog sulke stories aan haar te stuur.
Ná drie maande is al dié stories vasgevang in ’n boek wat tans beskikbaar is op Naledi se webtuiste teen R240.
Volgens Bekker het sy tong-in-die-kies gesê dat sy besluit het om Ek het ’n Engel gesien te skryf omdat “Suid-Afrika kan doen met ’n bietjie goedvoel- stories”.
Een van dié stories, wat kan dien as ’n lusmaker, sluit in die storie van ’n vrou wat met dubbele longontsteking in die hospitaal opgeneem is, en wat etlike dae om haar lewe geveg het.
“Elke keer as sy nie kon asem kry nie, het sy die knoppie gedruk vir die verpleër wat elke aand gekom het om te help,” het Bekker vertel.
Ná ’n paar dae is die vrou ontslaan en het toe ’n koek vir die verpleër gekoop om hulle te bedank, maar tot haar verbasing het daardie spesifieke verpleër waarna sy op soek was nie by die hospitaal gewerk nie.
Die siek vrou het toe besef dit was waarskynlik ’n engel wat haar kom besoek, en genees het.