Een van Danielle Booysen se gunstelingfoto’s van haarself omdat die blou merke duidelik op haar arm gesien kan word waar sy telkemale met naalde gesteek is.


“Ek verkies om nie na die kanker te kyk nie, want ek weet God het my genees.”

Dit was Danielle Booysen se antwoord tydens ’n onderhoud met Paarl Post verlede jaar, op die vraag hoe sy elke dag aanpak en teen die lewensgevaarlike siekte veg.

Die 21-jarige Booysen is die afgelope naweek in die Paarl-hospitaal ná haar lang stryd teen kanker oorlede.

LEES OOK: 21-jarige Danielle oowin kanker al amper ‘n dekade

Haar ouers, Diane en Henry Booysen, was by haar toe sy haar laaste asem uitblaas het, vertel Fabian Adonis, die stigter van die organisasie Cancer Heroes.Booysen, ’n oud-leerder van die Hoër Meisieskool La Rochelle, was net vier jaar oud toe Hodgkins-limfoom by haar gediagnoseer is.

Hodgkins-limfoom is ’n soort kanker wat die limfstelsel aantas, wat deel is van die liggaam se kiembestrydende immuunstelsel.

Jare het verbygegaan en Booysen het verskeie mediese behandelings ondergaan om die kanker te bestry. Die kanker het uiteindelik in remissie gegaan toe sy 12 jaar oud geword het.

Booysen en haar familie het die skoknuus in 2019 ontvang dat die kanker terug is en dat haar hele liggaam daarmee deurtrek is. Sy het aanvanklik weer met chemoterapie begin, maar haar liggaam kon dit nie meer hanteer nie omdat sy as kind reeds baie chemoterapie gehad het.

Ten spyte van wat die dokters gesê het, het sy besluit om positief te bly en voluit te lewe.

“Al is die stryd hoe moeilik, is daar altyd lig aan die einde wanneer jy verkies om daarna uit te sien. Negatiwiteit gee broeikans vir dood, en dit is iets wat ek lank reeds oorkom het,” het sy toe met ’n kalmte gesê.

In ’n Facebook-inskrywing wat Booysen voor die aanbreek van die nuwe jaar geplaas het, skryf sy: “As ek terugkyk na hierdie jaar het dit my gemaak wie ek is – sterk, fel en moedig. Die stryd was taai, maar ek het dit gemaak. Ek het nie gedink ek sou die laaste dag van 2023 sien nie, maar hier is ons en al wat ek kan sê is dankie God.”

Adonis vertel Booysen is sowat twee weke terug na die Paarl-hospitaal toe sy nie lekker gevoel het nie en gesukkel het om asem te haal.

“Sy is in die hospitaal opgeneem en ’n paar toetse is gedoen. Die dokters het bevind sy het ’n brongiale infeksie. Sy is op medikasie en suurstof omdat sy nie op haar eie kon asemhaal nie. Die dokters het gesê sodra sy op haar eie kan asemhaal, kan sy huis toe gaan. Danielle het oefeninge gedoen en probeer, maar sy kon steeds nie op haar eie asemhaal nie. X-strale is geneem en dit het gewys dat sy so te sê nie meer longe het nie en die medikasie het nie gehelp nie.”

Booysen het Saterdag (20 Januarie) in die vroeë oggendure gesterf.

“Sy het in baie mense se harte geklim en dit lyk amper haar afsterwe het die wêreld geruk,” sê Adonis.

Sy sal onthou word vir die mooi mens wat sy was, haar liefde vir modelwerk en dat sy as Miss Global Ambassador South Africa 2022 gekroon is.

  • Booysen word Saterdag (27 Januarie) vanuit die Paarl-stadsaal begrawe. Besigtiging is vanaf 09:00 tot 10:00 en die begrafnisdiens begin kort daarna.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article