Behels Alzheimer se siekte meer as net vergeetagtigheid? Hoe verskil alzheimers van ander vorms van demensie? Is daar medikasie of iets wat kan help?

Sowat 50 tot 60% van alle gevalle van demensie is Alzheimer se siekte. In baie gevalle kan Alzheimer se siekte ook gemeng wees of saam met vaskulêre demensie of een van die ander vorms van demensie voorkom.

Met Alzheimer se siekte vorm verskeie ongewenste proteïene, waaronder Tau-liggaampies, in die brein en belemmer dié neerleggings die oordrag van boodskappe in die brein.

Die simptome

Geheueprobleme is een van die tekens/simptome van Alzheimer se siekte. Taalprobleme, byvoorbeeld die soek na die regte woord, en later moeite om te gesels omdat die woorde nie gevind kan word nie, is ‘n verdere teken.

Ander tekens en simptome is inkorting in redenasievermoë en swakker besluitneming, swakker ruimtelike oriëntasie en moeite om ’n plek te herken, agnosie (moeite om ’n voorwerp en sy funksie te herken) en apraksie (dom om veters vas te maak of selfoon te gebruik).

Die pasiënt se humorsin verdwyn dikwels en hy/sy sukkel om somme te maak.

Diagnose en behandeling

Alzheimer se siekte is nie noodlottig nie, en niemand sterf weens Alzheimer se siekte nie. Geen bloedtoets of brein-skandering bestaan om alzheimers te diagnoseer nie, en dit word op grond van kliniese tekens gediagnoseer.

Na-doods kan ‘n patoloog wel die tekens van Alzheimer se siekte in die brein bevestig indien nodig.

Geen geneesmiddel bestaan nie, maar dokters probeer om die agteruitgang met twee middels te vertraag – veral as die alzheimers in ’n vroeë stadium is.

Die twee soorte medikasie wat gebruik word, is:

1. Om die vlakke van asetielcholien in die brein te verhoog omdat dit in mense met Alzheimer se siekte verlaag is.

2. Om die vlakke van glutamaat in die brein te verlaag omdat dit in mense met Alzheimer se siekte verhoog is.

Slaap 8 tot 9 ure per nag

Om deur jou lewe agt tot nege ure per nag goed te slaap, is uiters belangrik omdat die ongewenste proteïene wat in die brein neergelê word en tot Alzheimer se siekte of ander vorms van demensie kan lei, slegs verwyder kan word terwyl jy slaap.

Die brein het minstens agt tot nege ure slaap per nag nodig om hierdie ongewenste stowwe behoorlik te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.