Dit was ’n groot oomblik vir die 17-jarige Alynah Nortje toe sy onlangs as die wenner van die tydskrif Sarie se Nuwe Gesig-kompetisie aangewys is.
“Ek voel bevoorreg en ongelooflik opgewonde om die wenner van Sarie se Nuwe Gesig-kompetisie te wees. Ek kon dit aanvanklik nie glo nie. Ek het so groot geskrik toe my ma vir my sê Sarie se redaktrise, Michelle van Breda, het gebel en die goeie nuus gedeel dat ek gewen het. Dit was ’n groot oomblik in my lewe.
“Kort daarna is al die reëlings getref vir my voorblad-shoot in die ateljee saam met die Sarie-span. Die dag was heeltemal bo my verwagting en alles en meer as wat ek verwag het. Ek het vir seker soos die gelukkigste 17-jarige op aarde gevoel en het al die interessante ontwerpersuitrustings en haarstyle gelove. Ek sal my dag in Sarie se ateljee vir altyd onthou. Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid en om met so dinamiese span te kon saamwerk.”
Dié gr. 11-leerder van die Hoërskool Paarl Gimnasium sal op Sarie se handsakgrootte oplaag van die November/Desember-uitgawe verskyn.
Volgens Alynah is dit vir haar ’n groot eer, veral omdat sy met die Sarie in die huis grootgeword het.
“Ek het nog altyd opgekyk na Sarie, veral as ek weet daar kom ’n nuwe voorblad. Ek het besef ek vat die kans en klim ’n bietjie uit my boks om iets nuuts te probeer. My ma vervul ook ’n groot rol in hoekom ek besluit het om in te skryf. Sy was ook op 17-jarige ouderdom, soos ek, op Huisgenoot se voorblad en het Mej. Tiener Suid Afrika gewen. Sy het my ongelooflik baie geïnspireer en gesê ek moet net die kans vat.”
Alynah sê modelwerk is iets wat sy nog altyd wou doen. Dit interesseer haar, want sodoende kan sy nuwe ervarings, mense en plekke beleef.
“Al die stilering en verskillende uitrustings laat my voel of ek verskillende rolle speel. Ek het al ’n paar shoots gedoen, maar nog niks grootskaals nie, en ek hoop hierdie kompetisie sal my geleenthede kan bied aangesien dit die eerste keer is wat ek aan ’n kompetisie soos hierdie deelgeneem het.”
Buiten haar liefde vir modelwerk is Alynah ’n doodnormale tiener.
“Ek draf graag daagliks en oefen gereeld in die gimnasium. Ek is ook deel van my skool se cheerleading-groep wat deur die jaar oefen om vir groot geleenthede op te tree, soos interskole. Ek het nog altyd hokkie gespeel, maar ek het nou begin met muurbal, wat ek baie geniet.
“In hierdie stadium oorweeg ek om in ’n BCom-rigting te gaan studeer. Ek het nog baie tyd om te besluit, want ek is net 17 en het my hele lewe wat nog vir my voorlê. Ek sal graag deeltyds modelwerk wil doen, saam met my studies.”
Aloïse Nortjie, Alynah se ma, bars van die trots.
“Ek is super trots op Alynah en weet sy gaan sommer ’n pragtige voorblad vir Sarie maak. Sy is so nederig, en dit maak haar net nog mooier,” sê sy.
Verder wil Alynah ander jongmeisies soos haarself aanmoedig om daarna te strewe om hul drome te verwesenlik, al voel hulle bang.
“Glo in jouself, vat kanse en hou aan stap. Jou pad is vir jou uitgelê en dinge sal in plek val en geleenthede sal kom as jy dit graag wil hê en met albei hande aangryp. Ek het nie gedink ek gaan wen nie, maar ek het die kans gewaag, en toe gebeur dit vir my.”