Die GOOD-party het 'n mosie in die Drakenstein munisipale raad geopper vir die handelsure van alkohol om na Sondae en godsdienste vakansie verleng te word. Foto: Unsplash
Die GOOD-party het ‘n mosie in die Drakenstein munisipale raad geopper vir die handelsure van alkohol om na Sondae en godsdienste vakansie verleng te word. Foto: Unsplash

Die GOOD-party in Drakenstein sê godsdienstige oortuigings behoort glad nie ‘n faktor te wees in die munisipale raad se hantering van sy voorgestelde mosie om die handelsure van alkohol na Sondae en godsdienstige vakansiedae te verleng nie.

Dit kom te midde van gerugte dat die betrokke munisipale portefeuljekomitees glo eers gesprekke met plaaslike kerkgroepe wil voer alvorens die mosie aan openbare deelname onderwerp word.

Koos le Roux, die raad se Speaker, wou nie vandeesweek op die bewerings kommentaar lewer nie.

Die raad het die mosie in Februarie vanjaar aangehoor.

Daarin voer die GOOD-party aan dat Drakenstein se verordening “verouderd” is en dat dit hoofsaaklik uit godsdienstige oortuigings spruit.

“Baie ander munisipaliteite in ons naburige gebiede het dié wetgewing gewysig en ons glo dit is tyd dat Drakenstein dieselfde doen. Dit is ‘n verouderde wet wat die onwettige handel in drank bevorder. Dit lei verder tot verliese in belastinginkomste en benadeel gelisensieerde ondernemings,” het Keagen Gertse, die party se koukusleier, oor die huidige munisipale drankregulasie gesê.

Die mosie het op 29 April voor ‘n vergadering van verskeie munisipale portefeuljekomitees verskyn.

Die GOOD-party is die geleentheid gegun om dit verder te motiveer.

“Wat duidelik na vore kom, is dat die verordening oor handelsure en -dae vir alkoholverkope godsdiens – spesifiek die Christelike geloof – as ‘n instrument gebruik om die gedrag van sowat 305 000 inwoners te beheer en te beïnvloed.”

Keagen Gertse, GOOD-party

Volgens Gerste was sy waarneming sedert die indiening van hierdie mosie dat godsdiens “verkeerdelik aan die doelwitte van hierdie voorstel gekoppel word”.

“Wat duidelik na vore kom, is dat die verordening oor handelsure en -dae vir alkoholverkope godsdiens – spesifiek die Christelike geloof – as ‘n instrument gebruik om die gedrag van sowat 305 000 inwoners te beheer en te beïnvloed.

“Suid-Afrika – hoewel dit ‘n oorwegend Christelike land is – erken alle gelowe en godsdienstige praktyke gelyk. In dié lig, en as ‘n sekulêre staat, behoort ons in beginsel die sake van die regering – in hierdie geval, Drakenstein – grotendeels van godsdienstige leerstellings te skei.

“Die feit bly egter dat hierdie verordening die teenoorgestelde doen: dit gebruik regeringsmeganismes om ‘n groot groep mense te beheer en te beïnvloed op grond van wat die opstellers van die verordening destyds as reg beskou het.”

Die munisipaliteit wou nie by navraag bevestig wat die volgende stap in die hantering van die mosie is en wanneer dit vir openbare deelname gaan nie.

Intussen het gerugte die ronde gedoen dat die betrokke portefeuljekomitees glo beplan het om met verskeie plaaslike kerkgroepe as deel van die openbaredeelnameproses oor die mosie te beraadslaag.

“Die aangeleentheid [mosie] is volledig onderworpe aan ‘n openbaredeelnameproses. Kommentaar in hierdie stadium sal voortydig wees,” het Le Roux by navraag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.