Die plaasmoord-aktivis Petrus Sitho het in Oktober ook sy wit kruis gedra toe hy saam met boere in die Paarl teen plaasaanvalle betoog het. Foto: Heleen Rossouw


In Augustus het die nuus versprei dat die hooggeregshof in Johannesburg bevind het daar is onvoldoende bewyse gelewer om te bevind die sing van die struggle-lied “Kill the boer” kom op haatspraak neer.

Dié uitspraak volg ná AfriForum se slotbetoë wat hy in sy siviele geding teen die Economic Freedom Fighters (EFF) en sy leierskap vir die sing van die “Kill the boer”-lied by verskeie geleenthede in die hof gelewer het.

Regter Edwin Molahleni het in sy uitspraak bevind die sing van die lied moet, soos Julius Malema, EFF-leier, vroeër getuig het, nie letterlik opgeneem word nie. Hy het ook bevind AfriForum kon nie bewys dat die sing van die lied plaasmoorde op wit mense aanhits nie.

AfriForum het dié klag in Oktober 2020 aanhangig gemaak nadat EFF- ondersteuners “Kill the Boer, Kill the Farmer” buite die landdroshof in Senekal gesing het waar beskuldigdes vir die gruwelmoord op die plaasbestuurder Brendin Horner verhoor is.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê in ’n verklaring die uitspraak skep ’n baie gevaarlike presedent en dat hulle teen die uitspraak van die gelykheidshof appelleer.

“AfriForum is ’n voorstander van die reg op vryheid van spraak, maar daadwerklike gevalle van haatspraak moet beveg word. Hierdie saak gaan oor ’n duidelike geval van haatspraak, aangesien die sing van ‘Kill the Boer’ ’n groep op grond van identiteit teiken en duidelik geweld teen hierdie groep aanhits,” sluit Roets af.

Paarlse boere praat

Francois de Manielle is ’n plaaslike vrugteboer wat al 53 jaar op Knolvlei in Klein-Drakenstein woon en ook met wyndruiwe boer.

Hy sê hy was absoluut stomgeslaan toe die uitspraak gelewer is.

“Die woorde van dié liedjie is mos geensins aanvaarbaar nie. Ek het aanvanklik gedink dit sou sonder twyfel verban word.”

Of dit nou beskou word as ’n bevrydingslied of nie, meen De Manielle, maak nie saak nie. “Ons kan nie sulke soort liedjies óf uitsprake óf oproepe in ons land toelaat nie. Dit geld vir al die bevolkingsgroepe in ons land.”

Hy glo dat moord, marteling en aanvalle op enige mens absoluut onaanvaarbaar is.

“Nie op die plase nie en ook nie in die stede, dorpe en informele nedersettings nie. Die feit dat daar nie baie boere is nie en hulle op sulke wreedaardige maniere aangeval en van tyd tot tyd vermoor word, is onaanvaarbaar. My bekommernis is as die boere sou ophou boer, waar gaan die kos vandaan kom?”

De Manielle het eerstehandse ervaring van intimidasie en aanval-taktieke op sy plaas.

“Daar is al op my, en ’n paar keer op my wagte wat die boorde oppas, geskiet – seker maar om ons bang te maak of af te skrik. Gelukkig het niemand seergekry nie.

“Ons as boere word geweldig geteiken wat diefstal betref, hetsy vrugte, kabels, yster, krane, pompe, vee, bome en wingerde wat vir hout afgesaag word, diesel of enigiets wat waarde het. Dit is maar ’n stadige manier van ‘aanval’, wat uiteindelik dieselfde uitwerking sal hê as ’n plaasaanval waar die boer of sy familie vermoor is.”

Hy sê die plaaswerkers word ook gereeld aangeval en van geld of besittings beroof. “Sommige plaasmense is nie ingestel op dié soort gevaar nie en is daarom ook sagte teikens.”

Nog ’n boer in Klein-Drakenstein, Jacques Malan, wonder hoe dié uitspraak kon uitdraai indien die liedjie ander bewoording sou bevat.

“Al wat ek wil sê, is: hoe sou die reg reageer indien ons sou sing ‘Kill the Zulu, Kill the Xhosa’. Sou dit haatspraak wees, of rassisme?”

Die plaasmoord-aktivis Petrus Sitho, wat in Oktober verlede jaar in ’n optog by die Paarl-landdroshof saam met plaaslike boere betoog het, het ook sy mening gelug:

“Die liedjie ís haatspraak – dit is so eenvoudig soos dit. As ’n witman die K-woord sou gebruik, sou die witman dadelik strafregtelik vervolg word.

“Dié liedjie is dieselfde as die K-woord,” meen Sitho.

* Paarl Post reached out to local farmers and a farm murder activist, Petrus Sitho, about the Gauteng High Court’s ruling that the “Kill the Boer” struggle song does not amount to hate speech. Many believe the ruling is ridiculous and that a song that calls for the killing of a certain group is the definition of hate speech.

You need to be Logged In to leave a comment.