Inwoners in die omgewing van Mernoleonstraat in die Paarl is keelvol vir ’n konstruksiemaatskappy wat sy boumateriaal langs die Bergrivier stoor.


Hoewel die Drakenstein-munisipaliteit bevestig het dat sy regsdienste sal intree teen ’n boumaatskappy wat glo ’n stuk grond langs die Bergrivier vir die berging van sy boumateriaal gebruik, beweer dié betrokke maatskappy die munisipaliteit het hom toestemming gegee dat hy die grond mag omhein en benut.

Paarl Post het in Januarie vanjaar berig dat inwoners in die omgewing van Mernoleonstraat in die Paarl keelvol is oor die geraas van vragmotors en stootskrapers asook stof wat van ’n stuk grond op die wal van die Bergrivier kom.

Die koerant het by nadere ondersoek bevestig dat dié stuk grond aanvanklik as ’n park geklassifiseer is.

Dit beteken dat dieselfde munisipale wetgewing en regulasies wat vir ander parke geld, hier ook in werking moet wees.

’n Inwoner het vroeër vanjaar op voorwaarde van anonimiteit aan Paarl Post gesê dit gaan haar verstand te bowe dat die munisipaliteit tot nou steeds nie die oortreders vervolg het nie.

“Ek is nie presies seker wie die maatskappy is en waarvoor die materiaal gebruik word nie, maar dis definitief mense in die boubedryf aangesien dit bourommel is wat hulle kom berg en dan gereeld bietjie vir bietjie weer kom oplaai.

“Hier het eendag net ’n groot stootskraper en vragmotor opgedaag en die rommel kom stort – in ’n woongebied. Kan jy dit glo?”

Sy sê die woonbuurt word sedertdien deur geraas en stof geteister.

“Ek is ’n enkelma wat as ’n sjef werk met baie ongereelde ure. Ek moet party dae dus deur die dag slaap, maar ek kan eenvoudig nie weens die konstante geraas van trekkers en vragmotors wat hier in en uit beweeg.

“Daar is nou oral stof. Ons moet gereeld vensters was. Die kinders se beddegoed moet ook nou meer gereeld vervang word omdat hul voetjies deesdae alewig vuil en vol stof is.

“Hoe kan hulle verwag dat enige mens só moet leef?”

Louis Pienaar, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het vandeesweek aan Paarl Post gesê hulle kon intussen vasstel wie die maatskappy is, en het aangevoer dat die gebied langs die rivier “onwettig” gebruik word.

“Die betrokke rolspeler en konstruksiemaatskappy wat die gebied onwettig gebruik, is opgespoor. Die Drakenstein-munisipaliteit se regsdienste- en wetstoepassingsafdelings is tans besig met ’n proses om die kwessie op te los.”

Bennie Hawley, direkteur van BHB Civil Construction, het egter telefonies aan Paarl Post gesê die munisipaliteit het vroeër toestemming gegee dat sy maatskappy wel die grond sal mag gebruik.

“Ons het gesien dat die stuk grond besig is om in ’n stortingsterrein te ontaard. Mense het daar rommel kom stort net soos hulle lus het.

“Dit was toe ons besig was met ’n projek vir die nabygeleë Rembrandt Mall toe ons toestemming by die munisipaliteit gekry het om die grond te gebruik en uiteindelik teen besoedeling te beskerm.

“Ons het uit ons eie sak ’n heining en hek opgerig, waarvan die munisipaliteit ook ’n sleutel het.”

Hawley sê hy sukkel dus om te verstaan hoekom hul optrede as onwettig bestempel word, en voer aan dat hulle sal aanhou met die aktiwiteite aangesien die munisipaliteit hulle tot vandag toe nie aangespreek het nie.

Hy het ook aangevoer dat dit boumateriaal is wat daar gestoor word en nie bourommel nie.

In reaksie op Paarl Post se vraag oor hoekom hy dié bedrywighede in ’n woonbuurt sal regverdig, het Hawley gesê hulle sal probeer kyk na maniere waarop die stof en geraas verminder kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.