PAARL – Akademia het gister (Woensdag 15 Oktober) ‘n nuwe hoofstuk in die Afrikaanse hoëronderwys geskryf met die amptelike opening van sy splinternuwe kampus in die Paarl. Dié onafhanklike Afrikaanse hoëronderwysinstelling, wat reeds in Pretoria gevestig is, brei nou sy voetspoor na die Wes-Kaap uit.
Die kampus, geleë in Bredastraat 1, is op ‘n spoggeleentheid aan die gemeenskap en voornemende studente bekendgestel. Voltydse studente sal hul studies hier in 2026 kan begin, terwyl na-uurse studente ook van die kampus gebruik sal maak.

Akademia het sy deure die eerste keer in 2011 geopen.
Volgens Marthinus Visser, die besturende direkteur van Akademia, verteenwoordig die opening die verdieping van ‘n vertrouensverhouding tussen die instelling en die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe in die Wes-Kaap.
“Sakeondernemings, alumni en ondersteuners het hande gevat met geloof in ons visie. Hierdie kampus behoort nie net aan Akademia nie; dit behoort aan elkeen wat glo in die waarde van moedertaalonderrig,” sê hy.
Gawie du Toit, die Paarl-kampushoof, het beklemtoon dat die Afrikaanse taalbeweging sy oorsprong in die Paarl het.

“Hierdie streek se onderwysers, digters en denkers het bewys dat moedertaalonderrig nie ‘n voorreg is nie, maar ‘n verantwoordelikheid. Die opening van die kampus – in die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike taal – voltooi as’t ware die kringloop van die taal se geskiedenis,” sê hy.
Verskeie leiers het hul ondersteuning op die geleentheid uitgespreek. Heindrich Wyngaard, die voorsitter van Kaapse Forum, het gesê Akademia help bou aan ‘n “keerwal teen onkunde en intellektuele vervlakking”. André Verhoog van die Paarl-Vallei- prinsipale vereniging het dit ‘n “mylpaal vir alle Afrikaanse gemeenskappe” genoem.
Stephen Korabie, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit (DM), het die instelling verwelkom en gesê dit versterk die munisipaliteit se doelwitte van ekonomiese groei en vaardigheidsontwikkeling.
Die kampus beskik oor moderne lesingslokale, oop ruimtes waar voltydse of na-uurse studente kan werk, ‘n biblioteek, die Sowel-As-koffiewinkel, genoeg parkering en Die Winkel vir Akademia-handelsware. Sowat 340 studente sal in 2026 hier verwelkom word, met verwagtinge dat dié getal teen 2032 die 2 000-kerf sal oorskry.
Akademia het vroeër vanjaar voorwaardelike goedkeuring van die raad van hoër onderwys se gehaltekomitee vir die vestiging van die Paarl-kampus ontvang en is in Januarie 2011 as ‘n hoëronderwysinstelling geregistreer.
Volgens Visser sal Bredastraat 1 se tweede en vierde vloer Akademia vir sowat vier tot vyf jaar huisves, waarna die instelling hopelik grond in die munisipaliteit sal koop om die kampus, asook koshuise, permanent op te rig.

Hy het verduidelik dat die Paarl, naas Pretoria as kampus gekies is omdat die instelling in ‘n driehoek geleë wou wees, tussen Kaapstad se noordelike voorstede, Stellenbosch en die Paarl. Hy voeg by dat hul navorsing getoon het dat die dorp geskik is vir studente en die kampuslewe – veral weens die legio Afrikaanse skole – en dat die DM ook met die goedkeuring van die bouplanne hand aan hand met die instelling gewerk het.
Hoewel Akademia ‘n Afrikaanse en Christelike hoëronderwysinstelling is, word voornemende studente van ander tale en gelowe aangemoedig om ook aansoek te doen mits hulle nie besware teen hiérdie model het nie.
Vakgebiede wat Akademia tans aanbied, sluit in ekonomie, geestes- wetenskappe, natuurwetenskappe, opvoedkunde en regte.
Volgens Visser is die instelling voortdurend besig om uit te brei en beplan Akademia nie om hier halt te roep nie, met landboukursusse wat binnekort vir die Pretoria-kampus beplan word.
• Besoek Akademia se webwerf vir nog inligting.



You must be logged in to post a comment.