As alles volgens plan verloop, sal Akademia se geografiese uitbreiding na die Wes-Kaap in Februarie 2026 ’n hoogtepunt bereik wanneer dié instelling die deure na sy splinternuwe Paarl-kampus vir die akademiese jaar oopswaai.
Só vertel Marthinus Visser, die besturende direkteur van Akademia, tydens ’n Wes-Kaapse geleentheid vir hoofde wat Dinsdag (11 Februarie) aangebied is. Dit was nadat die instelling in April 2024 sy voorneme aangekondig het om sy geografiese voetspoor na dié streek te vergroot.
Visser, vergesel deur ’n afvaardiging Akademia-personeel en die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum (SOS) het tydens die geleentheid in die Paarl ’n hand van kennismaking én samewerking na die plaaslike Afrikaanse onderwysgemeenskap uitgereik.
Die geleentheid het verder ten doel gehad om die sluier te lig oor die vordering wat reeds gemaak is ten opsigte van die vestiging van Akademia se nuwe Paarl-kampus. Dié satellietkampus span die kroon op die instelling se huidige groeitrajek en baan die weg na die realisering van nóg ’n Akademia-droom, naamlik die ontwikkeling van ’n wêreldklas- kampus in Pretoria teen 2028.
Visser het trots aangekondig dat die nuwe tussentydse Paarl-kampus in die hartjie van Esterville geleë sal wees en dat die instelling se nuwe adres in die Wes-Kaap later bekend gemaak sal word. Die vestiging van dié satellietkampus bou voort op die instelling se reeds bestaande sentrumnetwerk in onder meer George, die Paarl en Somerset-Wes waar Fonties* hul studie via die nauurse afstandsmodel aanpak.
Die kampus sal gestalte gee aan Akademia se voltydse kampusmodel, soos wat dit reeds in Centurion die geval is, en sal in sy vestigingsjaar ’n studietuiste vir ongeveer 340 eerstejaarstudente wees. Laasgenoemde sal studente nie net toegang tot die instelling se vyf fakulteite gee nie, maar ook toegang tot ’n bruisende en eiesoortige studentelewe.
Prof. Gawie du Toit, dekaan van die fakulteit opvoedkunde by Akademia, sal die hoof van dié kampus wees.
Du Toit is reeds meer as 35 jaar aktief in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor betrokke as onder meer navorser, departementshoof, kurrikulumontwikkelaar, programdirekteur en senior bestuurder.
graadkeuses vir 2026
Die volgende programme sal met die aanvang van die 2026- akademiese jaar by dié kampus aangebied word:
. Fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe: BCom (ekonomie en regte), BCom (finansiële en bestuursrekeningkunde), BCom (ondernemingsbestuur);
. Fakulteit geesteswetenskappe: BA (kommunikasie en joernalistiek), BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie);
. Fakulteit natuurwetenskappe: BSc (rekenaarwetenskappe);
. Fakulteit opvoedkunde: BEd (grondslagfase-onderwys), BEd (intermediêre fase-onderwys); en
. Fakulteit regsgeleerdheid: LLB.
Aanlyn studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar sal vanjaar op Dinsdag 1 April open.
Volgens Visser sal studente tydens hul studiejare voluit aan ’n aktiewe studentelewe kan deelneem en hul talente op só ’n wyse ontwikkel dat hulle roepingsgedrewe tot voordeel van hul gemeenskap sal kan leef.
“Die studentelewe by Akademia het ten doel om ’n tuiste te skep waar studente se denke én hart in samehang kan ontwikkel en ons is daartoe verbind om – soos dit reeds die geval by ons kampusse is – ook in die Wes-Kaap in hierdie ontwikkeling van goed gevormde studente te belê,” sê hy.
Dié studentelewe sal vorm aanneem by wyse van ’n verkose studenteraad (SR), daghuise en ’n verskeidenheid aktiwiteite, waaronder sport, kultuur, gemeenskapsprojekte den sosiale en goed gevestigde studente-ondersteuningstrukture.
fasiliteite teen die einde van die winter voltooi
Wat die kampus betref, verduidelik Visser die plan is dat dit teen die einde van Augustus vanjaar voltooi sal wees.
Die volgende fasiliteite word ingerig: 13 lesinglokale, ’n koffiewinkel, ’n kafeteria, ’n mediasentrum, ’n Akademia-winkel, saamwerkruimtes, ’n funksielokaal asook veilige parkering. Hierdie fasiliteit sal later vanjaar amptelik bekendgestel word.
Intussen word ’n propvol Wes-Kaap-gebeurlikheidskalender in die vooruitsig gestel met onder meer ’n kampusopedag, skoolbesoeke, ’n toppresteerdersfunksie (Elite-Fontie), vakkeuse-aande en Akademia se deelname aan die Paarl-koorfees ter viering van die eeufeeswording van Afrikaans later vanjaar.
“As ’n instelling verteenwoordig 2025 ’n groot jaar waarin ons hard gaan werk om gestalte aan ons droom én roepingsbesef te gee, naamlik om as ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling diensbaar te wees vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe,” sê Visser.
Hy voeg by dat die instelling reeds baie vermag het sedert die eerste klasse dertien jaar terug met slegs 42 studente in vyf programme ’n aanvang geneem het.
“Ons staan waarlik op die skouers van die gemeenskappe wat ons dien, en sien uit na die vestiging in die Wes-Kaap. Dit is ons droom om teen 2032 ’n voorkeurstudietuiste vir meer as 2 000 Fonties in dié omgewing te wees, met ’n voltydse personeelkorps van meer as 100 kundige en ervare personeel.
“Intussen vat ons doelgerig hande met die gemeenskap om só die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese te help verseker,” sê Visser.
. Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer. Dié eienaam is afgelei uit die instelling se leuse, Ad futurum per fontes – na die toekoms deur die bronne.