Akademia, die Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling, is nóg ʼn stap nader aan die waarmaking van sy nuwe voltydse kampus in die Wes-Kaap. Dit volg nadat die Raad op Hoër Onderwys (RHO) se Hoëronderwys-gehaltekomitee (HOGK) sy voorwaardelike goedkeuring aan die instelling se Paarl-kampusfasiliteit gegee het. Dié kampus sal geleë wees in die Nedbank-gebou op die hoek van Bredastraat en die Bergrivier Boulevard.
Wat die inrigting van dié fasiliteit betref, meen Tony van der Merwe, bedryfsbestuurder: Paarl-kampus, dat die vestigingsproses in fases aangepak sal word en dat die nodige bouplanne tans by die Drakenstein-munisipaliteit dien. ʼn Tenderproses vir die inrigting van die kampus is suksesvol afgehandel en dit word voorsien dat die finale inrigting teen 1 Oktober 2025 voltooi sal wees.
In nóg ʼn verwikkeling sal studente wat by wyse van die instelling se nauurse afstandsmodel studeer en by die Paarl-sentrum ingeskakel is hulself óók op die nuwe kampusperseel vestig.
Die nuwe kampusfasiliteit sal as volg daar uitsien:
- Lesingslokale
- Verskeie saamwerkruimtes
- Twee kafeterias – een binnenshuis en een buite
- ʼn Ten volle toegeruste mediasentrum
- ʼn Sowel-As-koffiewinkel
- Die Winkel (vir die verskaffing van Akademia-handelsmerkprodukte)
- Toegangsbeheer; en veilige parkering

Die kampus sal in Januarie 2026 ʼn aanvang neem met ʼn personeelkorps van 47 voltydse personeellede. Die instelling is reeds in die proses om poste vir die Paarl-kampus te vul en daar word beoog om uiteindelik twintig akademiese personeel en 27 afdelingspersoneel vir 2026 op die perseel in diens te hê. Dit word in die vooruitsig gestel om teen 2028 méér as 100 voltydse personeel op die kampus werksaam te hê. Die rol van kampushoof sal deur prof. Gawie du Toit vervul word.
Wat die akademiese programverskeidenheid betref sal daar – soos in die geval van die Pretoria-kampus, programme vanuit al vyf die instelling se dinamiese fakulteite aangebied word.
In reaksie op die voorwaardelike goedkeuring van die Paarl-kampusfasiliteit sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat 2025 ʼn gróót jaar vir die instelling verteenwoordig. “Vanjaar word daar hard gewerk om gestalte aan ons droom én roepingsbesef te gee, naamlik om vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe diensbaar te wees,” verduidelik Visser. Hy voeg by dat die instelling daartoe verbind is om teen 2032 ʼn voorkeurstudietuiste vir méér as 2 000 voltydse Fonties in die Wes-Kaap te wees en só die voortsetting van die Afrikaanse universiteitswese te help verseker.
You must be logged in to post a comment.