’n Agtjarige seun is dood toe twee huise in Van Wyksvlei afgebrand het.Foto: Verskaf


Nie net het menige huisgesin al hul besittings verlede week in brande in Newrest en Van Wyksvlei, Wellington, verloor nie, maar so het ’n ma ook haar agtjarige seun aan die dood afgestaan.

Stephan Landsberg van Wellington Aksie Groep (WAG) het Vrydag bevestig dat die brand vroegoggend by twee houtopslaanhuise agter op die erf van ’n woning in Mooivleistraat ontstaan het.

“Die nooddienste was vinnig op die toneel, maar ongelukkig kon die seun nie gered word nie. Ons dink aan die familie in hierdie moeilike tyd,” het Landsberg aan Paarl Post gesê.

Hy vertel dat die slagoffers van die twee huise al hul besittings in die brand verloor het.

Die eienaar van die erf en familielid van dié seuntjie, Roos Hendricks, vertel: “Ek was nog besig om koffie te maak en binne ’n oogwink toe sien ek net vlamme!”

Dit was ’n traumatiese ervaring toe sy besef dat almal veilig uitgekom het, behalwe die kindjie wat in die woning vasgekeer was. “Daai stemmetjie wat na hulp uitskree eggo steeds in my gedagtes.”

Hendricks sê hy was die dierbaarste seuntjie, terwyl haar buurvrou op haar beurt bylas: “Hy was só ’n lieflike kind – hy het die Donderdagmiddag nog saam met my op my voorstoep gesit en kuier. Hy was ook so ’n hulpvaardige seun en só mal daaroor om sy fietsie, en die van ander kinders, alewig te help regmaak.”

Volgens ’n verklaring uitgereik deur Drakenstein-munisipaliteit is die brand om 05:45 aangemeld en die nooddienste het die brand om 06:10 in bedwang gebring.

“Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium steeds onbekend en word deur die polisie ondersoek,” lui die verklaring.

Volgens ’n inskrywing wat op die WAG-Facebookblad gedeel is, het sowat 10 mense al hul besittings verloor.

Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, sê ’n lykskouing sal volg om die oorsaak van die agtjarige kind se dood te bepaal.. Verlede week het twee verskillende brande ook in die Newrest-gebied uitgebreek.

In die eerste voorval het ’n huis asook twee informele wonings op die erf afgebrand en het die slagoffers alles in die brand verloor.

In die tweede voorval verlede Donderdag het een vertrek van ’n huis ook erge brandskade opgedoen nadat ’n informele woning op die erf afgebrand het.

Raadslid Thobani Mooi sê hy samel nou goedere vir die slagoffers in. Hy sê die slagoffers weet nie hoe die brand ontstaan het nie.

  • A fire in Van Wyksvlei, Wellington, early on Friday morning left one eight-year-old child dead and two families without any belongings. Two unrelated fires occurred days before in Newrest, Wellington. One in which a house and two informal homes were destroyed, and another in which one residence lost one room that was consumed before the flames were tamed.

You need to be Logged In to leave a comment.