Vorige jare se top-deelnemers sal wys wat Agri’s Got Talent (AGT) vir hulle beteken het en hoe die projek hul lewe verryk het.
Die bekende plaaslike kunstenaar en AGT-afrigter Frieda van den Heever sal die musiekregisseur wees. Francois van der Merwe, wat die afgelope drie jaar deel van die AGT-familie is, sal die tegniese direkteur wees.
Produksiegebiede in Limpopo, Mpumalanga, Langkloof en die Wes-Kaap sal deel vorm van die toer waarin mini-vertonings op plase, in pakhuise en in kelders aangebied gaan word.
Die groot AGT-vertoning vind op 18 November in die Paarl in die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se amfiteater plaas. Kaartjies is by Computicket (aanlyn of by Shoprite/Checkers-winkels) beskikbaar: https://computicket-boxoffice.com/e/agris-got-talent-10-year-reunion-show-9JXods
AGT is vir die eerste keer in 2014 deur Hortgro, die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryfsorganisasie, aangebied en was die idee van Hortgro se uitvoerende direkteur, Anton Rabe, wat hoop dat die kompetisie wortel sal skiet en die hele landbou-arena in Suid-Afrika sal verteenwoordig.
Sedert daardie vroeë dae pronk AGT nou met borgskappe van South Africa Wine (SA Wine), die Citrus Growers’ Association, die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati), die Wes-Kaapse departement van landbou (WCDoA) en Hortgro.
Rabe beskou die kompetisie as ’n voorbeeld van die multi-dimensionele aard van landbou en landelike gemeenskappe as ’n geheel en die bydrae wat hierdie sektor kan lewer om die potensiaal van hierdie land te ontsluit.
Justin Chadwick, uitvoerende hoof van CGA, het gesê: “Die sitrusbedryf was ’n latere toevoeging tot AGT – ons het van die kantlyn af gekyk hoe dié in die ander vrugtebedrywe op die verhoog skitter, en uiteindelik in 2019 ons kans gekry om mee te ding.
“Sedert ons betrokke geraak het, het ons voordeel getrek uit diegene wat vooruitgegaan het; nou is sitrus ’n integrale deel van hierdie goed georganiseerde en professionele kompetisie.”
Phil Bowes, SA Wine Manager Industry Transformation Advisory: “Die wynbedryf is met trots betrokke by Agri’s Got Talent sedert die jaar ná sy ontstaan ’n dekade gelede.
Agri’s Got Talent oorbrug die gaping tussen die wingerde en die verhoog, met ses top-drie-finaliste uit ons bedryf wat sedert 2014 harte bekoor.
Benewens die gehalte van musiekonderrig wat in die program aangebied word, is die invloed van persoonlike afrigting wat deelnemers ontvang, duidelik. Ons is trots om weer by die program betrokke te wees.”
Agri’s Got Talent is veel meer as net ’n sangkompetisie. Die projek strek veel verder as net die top-deelnemers en hul gesinne. Oor die jare het vorige deelnemers ware ambassadeurs vir hul werkgewers, plase, pakhuise en gemeenskappe geword.
Hulle het hul kollegas geïnspireer en ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskappe gemaak; sommige het by jeug- en ander opheffingsprojekte betrokke geraak of hul sangvaardighede gedeel. In hierdie verband was die projek ’n sukses.
Volg AGT op Facebook, Twitter en TikTok om die jongste nuus te kry. Kontak: info@agrisgottalent.com vir meer inligting.