Gratis toegang, ’n Boezak-werksessie en vermaak wink.
Om opnuut klem te lê op die Afrika in Afrika(ans), bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) gratis toegang aan almal op Afrikadag op Donderdag 25 Mei, wat fokus op die wedersydse invloede tussen Afrikatale en Afrikaans. Boonop is daar ’n uiters interessante gratis werksessie op Saterdag 27 Mei, oor onder meer dié dag, moedertale, Khoekhoen en Moslem-Afrikaans, wat afgesluit sal word met pragtige koormusiek en ’n marimba-opvoering. Slegs diegene wat vooraf registreer, sal die dag gratis kan bywoon; enige ander gaste sal die normale toegangsfooie betaal.
Die aanbieder, Willa Boezak, is onder meer bekend om sy aktivisme oor die eerste inheemse tale, hul sprekers en die rol wat hulle in die skepping van Afrikaans gespeel het. Hy gaan van 10:00 Saterdagoggend vir 90 minute op ’n interaktiewe manier praat oor taalgeskiedenisse aan die Kaap, soos die van Namaghowab en Moslem-Afrikaans, asook Gariepafrikaans. Verder sal hy voorbeelde van ’n oergebed en verjaarsdaglied in Nama uitvoer, en praat oor die Genadendallers se verset.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, wil die monument met hierdie viering mense bewus maak van Afrikaans as ’n Afrikataal, die taal se Afrika-wortels (saam met haar Europese en Oosterse erfenisse) sowel as die diversiteit van die Afrikaanssprekende gemeenskap. “Ons beskou die monument nie net as ’n baken van hoop vir die ontwikkeling van Afrikaans nie, maar vir alle Afrikatale.”
Bywoning is gratis en sluit toegang tot die monument asook die vermaak in, maar bespreking is ’n voorvereiste. RSVP teen 26 Mei by Elsabé Pearce via ontvangs@taalmuseum.co.za of 021 863 0543.
Boezak se boek, So Glo Ons – die Khoi-San van Suid-Afrika met kaarte en foto’s, verhale oor Krotoa en andere, asook geloofskwessies en rotskuns – sal beskikbaar wees teen R150.
Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook.