Die Afrikaanse Taalmonument (ATM) en Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl het die afgelope Saterdag (30 November) sy 50ste bestaansjaar met ’n stampvol feesprogram gevier.
Die ATM, een van Drakenstein se mees geskiedkundige geboue, is op 10 Oktober 1975 tot stand gebring en is deur die argitek Jan van Wijk ontwerp en deur die konstruksiefirma Murray & Stewart van Kaapstad saam met Holtzhausen en Hugo, bouers van die Paarl, opgerig.
“Die gedagte daaraan om ’n monument vir Afrikaans op te rig, het in die jare veertig by ’n klein groepie begeesterde mense ontstaan. Die eerste denkbeeldige sooi is op 26 September 1942 gespit met die stigting van ’n komitee om geld vir hierdie doel in te samel. Toe in die jare sestig besluit is om met die bou van die monument voort te gaan, was daar reeds ’n stewige neseier en het die insameling momentum gekry,” volgens ’n boek wat Van Wijk geskryf het en in 2014 gepubliseer is.
Volgens Van Wijk se boek is die monument van Januarie 1972 tot Desember 1974 met ’n boukoste van R718 058,97 gebou.
Tydens die ATM se verjaarsdagviering is verskeie rolspelers na die byeenkoms genooi, onder wie die Angeliere-sangkoor, wat ’n tradisionele Maleierkoor is.
Die wenner van die Fenomenale Vroue-kompetisie se afdeling Bevordering van Afrikaans, naamlik Petro Gordon, en die naaswenner, Joha van Dyk, het hul gedigte voorgelees.
Micheal Jonas, die ATM se direkteur, asook Jean Meiring, die raadsvoorsitter, het die gaste toegespreek oor die totstandkoming van die monument en die pad vorentoe.
Die ATM het ’n splinternuwe kenteken en webtuiste voorgestel, wat eersdaags te sien sal wees.
“Die ATM het vroeër vanjaar ’n kompetisie vir ’n kenteken aangebied, met R10 000 op die spel. Tientalle inskrywings is ontvang en meer as ’n duisend aanlyn stemmers het uiteindelik op die skepping van Cameron Gertse (24) [van Wellington] besluit.
“Ek het nooit gedink ek, ’n leerder wat op skool net-net deur sy vakke geskuur het, as die nommer-een-ontwerper vir die wêreldbekende Taalmonument se kenteken aangewys sou word nie,” het Gertse volgens ’n persverklaring van die ATM gesê.
Simboliek van die monument
Die ATM verteenwoordig volgens die ATM se webtuiste “die diversiteit, groei en ontstaan van Afrikaans”.
“Die oorsprong van Afrikaans lê oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, die Ooste en natuurlik Afrika – en dit is wat deur hierdie monument uitgebeeld word.”
“Die suile aan die linkerkant van die monument verteenwoordig die invloed van die Wes-Europese tale en kulture op die ontwikkeling van Afrikaans, waaronder Nederlands, Duits, Frans en Portugees. Die suile loop van hoog na laag om die verminderende Europese invloed op Afrikaans uit te beeld. Die hoogste van die drie is ongeveer 13,5 m,” volgens die webtuiste.
“Die muur op die trap-aantrede van die monument stel die invloed van Indonesiese tale (hoofsaaklik Maleis) op die ontwikkeling van Afrikaans voor. Aangesien Maleis van die Ooste is, is die muur só tussen die kurwes van Wes-Europa en Afrika geplaas dat dit apart staan. Tog vorm dit ’n eenheid met die twee kragte van Wes-Europa en Afrika wat saamsmelt om die brug te vorm wat dan simbolies die basis – die wortels – van Afrikaans uitbeeld.”
Die koepels beeld die invloed van Afrika-tale, onder meer Khoikhoi, Xhosa, Zoeloe en Sesotho, op die ontwikkeling van Afrikaans uit.
Die koepels neem in grootte toe omdat Afrika-tale se invloed op Afrikaans toeneem, luidens die webtuiste.
“NP Van Wyk Louw, die een skrywer deur wie Van Wijk met die bou van die monument geïnspireer is, het geskryf Afrikaans staan met sy een voet in Afrika en met die ander voet in Europa, menende dat die taal sy oorsprong in albei vastelande het. Hy beskryf Afrikaans as ’n brug tussen die tale van Europa en Afrika.”
Hierdie stelling is simbolies van die kurwes van die ATM wat bymekaarkom om ’n brug te vorm.
Die pad vorentoe
Die ATM het reeds sy kalender vir 2025 bekendgestel en besoekers kan uitsien na ’n propvol program.
“Vir 2025 beplan die ATM – naas die gewone piekniekreeks en viering van nasionale dae – ook nog piekniekkonserte, ’n skoolkoorfees, ’n reeks artikels oor Afrikaans se komvandaan en toekoms, ’n spesiale feesbylae asook verskeie Afrikaans Amptelik 100- en ander verrigtinge. “Hopelik word ons nie vanjaar gekortwiek deur ’n virus soos in 2020 tydens ons 45ste nie,” het Jonas ter afsluiting geskerts.